Inwoners nie aanspreeklik vir dié waterverlies

“Wat het gebeur in Paardebergweg? Duisende liter water stroom nou al weke lank in ‘n voor langs die pad tot by ‘n stormwaterdrein waar dit net wegvloei en verlore gaan. Gaan inwoners vir hierdie verlies aanspreeklik gehou word?”

SASOLBURG. – “Wat het gebeur in Paardebergweg? Duisende liter water stroom nou al weke lank in ‘n voor langs die pad tot by ‘n stormwaterdrein waar dit net wegvloei en verlore gaan. Gaan inwoners vir hierdie verlies aanspreeklik gehou word?”
Dit is van die vrae wat inwoners van Vaalpark die afgelope tyd vra. Die slegte nuus is: Ja, daar het iets gebeur en die water gaan verlore. Die goeie nuus: Die probleem gaan binnekort opgelos wees en Vaalpark se inwoners gaan nie die rekening vir die verlore water hoef te betaal nie.
Wat gebeur het, is dat Vaal Toyota met ‘n projek begin het om die onbeboude erf langs hul bestaande perseel te ontwikkel. Dit sal onder andere ‘n vulstasie en ‘n klein winkelsentrum insluit. In hul poging om twee groot bloekombome te verwyder om ‘n nuwe uitgang na Paardebergweg te bewerkstellig, is ‘n munisipale waterpyp van 500 mm beskadig, sê mnr. Hannes Strydom, handelaarsprinsipaal van Vaal Toyota.
Hy sê die probleem het dadelik aandag gekry. Omdat dit deel is van die Metsimaholo-munisipaliteit se verantwoordelikheid, kon herstelwerk nie sonder hul insette gedoen word nie. Die probleem is dat die toevoerpyp normaalweg onder groot druk is – tussen 5 en 8 bar. Herstelwerk is nie so eenvoudig nie. Die eerste kontrakteur het onttrek en daar moes dadelik ‘n ander plan gemaak word. Omdat dit spesiale toerusting en onderdele vereis, was geskikte kontrakteurs nie so vinnig beskikbaar nie. Sommige het reguit gesê hulle sien nie kans vir dié probleem nie. Metsimaholo het wel dadelik verliese beperk deur die druk af te bring sodat die aanvanklike waterverlies van 193 liter per sekonde verminder is na slegs 4.2 liter per sekonde.
Vaal Toyota het toe op hul eie koste die diens van ‘n kontrakteur bekom. Die koppelstuk of spesiale klamp wat nodig is om die herstelwerk te doen, is intussen bestel en was verlede week reeds in die vervaardigingsproses. Die herstelwerk, wat onder toesig van die Metsimaholo-munisipaliteit deur die kontrakteur gedoen word, sal na verwagting hierdie week afgehandel wees. Die sloot waarin die water weggevoer word, is deur die Metsimaholo-munisipaliteit gegrawe as tydelike oplossing om die pad en omgewing te beveilig.

Die afgesaagde bloekomboom wat ‘n groot kopseer vir Vaal Toyota in Vaalpark veroorsaak het. Foto’s: Christi Nolte

Die verantwoordelikheid van die waterverlies is na Vaal Toyota verwys en nie na inwoners van Vaalpark soos wat sommige beswaardes gevrees het nie.Aan die positiewe kant kan werknemers in die Naledi-nywerheidspark nou uitsien na die nuwe vulstasie en winkelsentrum by Vaal Toyota, wat tot voordeel van die hele gebied gaan wees. Voorheen moes werknemers na Vaalpark of Sasolburg ry om aankope te doen, wat nou op hul eie drumpel gedoen sal kan word. Dit skep terselfdertyd ook nuwe werksgeleenthede. Die vulstasie alleen behoort omtrent kos op die tafels van 15 broodwinners se families te kan plaas, om nie eers te praat van die sentrum wat deur sakelui gebruik sal kan word om werk te skep, asook ‘n inkomste te genereer nie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version