Dogtertjie pimpel en pers geslaan by dagmoeder

VEREENIGING. – Wanneer jy jou kind by ’n dagmoeder aflaai, verwag jy dat daar goed na jou kind omgesien sal word. Dit was egter ’n skok vir die ouers van ’n sesjarige dogtertjie toe sy aan die einde van die dag pimpel en pers by die huis aangekom het. Die voorval het glo net voor …

VEREENIGING. – Wanneer jy jou kind by ’n dagmoeder aflaai, verwag jy dat daar goed na jou kind omgesien sal word. Dit was egter ’n skok vir die ouers van ’n sesjarige dogtertjie toe sy aan die einde van die dag pimpel en pers by die huis aangekom het. Die voorval het glo net voor Paasnaweek by die Sonhof-woonstelle in Duncanville gebeur waar Peter Hughes en Anita de Beer se dogtertjie in die sorg van ’n dagmoeder was. Anita sê sy het haar kind die middag gaan oplaai waarna sy meegedeel is dat die dagmoeder haar kind pakslae gegee het omdat sy glo nie haar huiswerk wou doen nie. “Toe ons by die huis kom, het my dogtertjie vir my gesê ek moet haar nie optel nie, want haar boudjies is seer. Toe ek kyk hoe dit lyk het ek so begin huil, want hoe kan iemand dit aan my kind doen?” Anita sê sy het die dagmoeder gebel en haar gevra wat sy aan haar kind gedoen het, “want sy het haar nie ’n pakslae gegee nie, sy het haar aangerand.” Vir twee dae kon sy nie sit nie en haar ma het anti-inflammatoriese salf aan haar boudjies gesmeer.
“Dit het vir my gevoel asof ek ontplof so kwaad was ek, maar ek het geweet sou ek na die vrou se huis gaan, gaan ek net meer moeilikheid maak. Ek het besluit dat die wet sy gang moet gaan en dat geregtigheid moet geskied,” sê Peter. Die dokter wat die J88-verslag uitgereik het, het gesê hy het in sy lewe nog nooit gesien dat ’n kind so geslaan is nie.
“Sy is steeds baie getraumatiseer en kry tans berading,” sê Anita. Sy is intussen in die sorg van ’n ander dagmoeder geplaas en haar skoolwerk toon ’n duidelike verbetering. ’n Saak van aanranding is teen die betrokke dagmoeder gemaak. Sy is in hegtenis geneem en die volgende dag op borgtog vrygelaat. Die saak is tot 3 Junie uitgestel.
* Vaalweekblad het die dagmoeder om kommentar genader, maar sy wou nie kommentaar lewer nie.

Die merke op die sesjarige dogtertjie se lyf nadat sy na bewering aangerand is by die dagmoeder in wie se sorg sy was.
Exit mobile version