Man stap 5 000km om kunsbeen te gee

Paul Steyn, ’n oudleerling van Hoërskool Die Wilge in Potchefstroom, het al meer as 5 000 km op sy kunsbeen gestap om ander mense, wat kunsledemate nodig het, te help.

Paul Steyn, ’n oudleerling van Hoërskool Die Wilge in Potchefstroom, het al meer as 5 000 km op sy kunsbeen gestap om ander mense, wat kunsledemate nodig het, te help.

Op 13 Mei het hy in Stilfontein ’n draai gemaak om vir Anna-Marie Erasmus, wat verlede jaar haar been verloor het, ’n kunsbeen te skenk. Die 28-jarige Paul, wat nou in Parys woon, het sy been op 13-jarige ouderdom verloor nadat sy voet onder ’n bossiekapper beland het. “Ek het al meer as 5 000 km vir Anna-Marie se projek gestap, al het ek maar net van Parys af gestap. Dit is nie so ver nie,” vertel die beskeie Paul.

Paul het al meer as 5000km gestap vir liefdadigheid

Volgens hom borg sommige mense hom per kilometer en kleinsakemanne en die instansies help met fondse per projek. Paul het egter altyd nog meer geld nodig om meer mense te kan help. “Ek het al meer as 10 000 name op my databasis wat vir hulp gevra het,” sê hy. Paul sê dat hy sy passie vir mense, stap en natuur gekombineer het en so aan die idee gekom het vir die Paul Steyn Stigting. “Toe ek 16 was het iemand vir my ook ’n been geskenk en ek dink daar het iets by my vasgesteek om ander mense ook te help.

MLC Ministries van Pretoria het die fondse bymekaar gemaak vir Anna-Marie se been,” sê Paul. Anna-Marie (33), is al vir 27 jaar ’n tipe 2 diabeet wat verlede jaar weens swak bloedsirkulasie haar been verloor het. Weens die diabetes het Anna-Marie op 18-jarige ouderdom ook haar sig verloor.

“Toe ek verlede jaar my been verloor, was ek vasgevang in ’n rolstoel en kon nie meer my gidshond gebruik nie,” vertel sy. Te danke aan Paul kan sy nou weer met behulp van haar gidshond self rondloop. Volgens Delarey Pretorius wat die kunsbeen vir Anna-Marie gemaak het, kos dit ongeveer R65 000 om so ‘n kunsbeen te maak. “Baie mediese fondse betaal nie vir die maak van ’n kunsbeen nie, want dit word soms as kosmeties gesien. Dit is egter nie altyd die geval nie. Anna-Marie sou sy nooit kon loop sonder die been nie, omdat sy blind is en haar gidshond nodig het,” sê Pretorius.

Paul het klaar sy volgende projek in gedagte. Hy wil ’n TV-program laat maak om sy stappery regoor die land bekend te stel. Besoek die webtuiste www.paulsteynfoundation.org.za om op hoogte te bly met die projekte en vir kontakbesonderhede.

Exit mobile version