NewsNews

Nuwe baadjie vir Etienne Rousseau-teater

SASOLBURG. – Die Etienne Rousseau-teater spog met ‘n splinternuwe baadjie. Dit is nie sommer net ‘n denim- of tweedbaadjie nie, maar ‘n spoggerige tuxedo. Dié teater, wat al vir 40 jaar ‘n baken in die Sasolburg-sakekern is, is destyds gebou met die oog daarop om ‘n wêreldklas verhoog vir die uitvoerende kunste in Sasolburg te …

Nuwe baadtjie vir Etienne Rousseau-teater
Die nuwe embleem van die Etienne Rousseau-teater. Foto’s: Schalk le Roux

SASOLBURG. – Die Etienne Rousseau-teater spog met ‘n splinternuwe baadjie. Dit is nie sommer net ‘n denim- of tweedbaadjie nie, maar ‘n spoggerige tuxedo.

Dié teater, wat al vir 40 jaar ‘n baken in die Sasolburg-sakekern is, is destyds gebou met die oog daarop om ‘n wêreldklas verhoog vir die uitvoerende kunste in Sasolburg te vestig. Deur die jare het die gebou verouder en vervalle geraak. Verlede jaar het die Rejuvenation Trust van Sasol besluit om hierdie kunste-juweel te sluit en op te knap. Die teater se deure is nou weer oop en wêreldklas kunstenaars het reeds weer hier opgetree.

“Dit is egter net die begin. Ons beoog om ’n groot verskeidenheid teatervertonings aan te bied, van dramas tot ’n wye spektrum musiekproduksies. “Die teater sal ook vir privaat geleenthede te huur wees, maar ons primêre fokus is die uitvoerende kunste,” sê Herman van Niekerk, hoof van die teater. Die teater se bedrading is oorgedoen en spog nou ook met ‘n moderne, hoëgehalte klanksisteem en beligting.

Op ‘n tegniese vlak staan hierdie teater nou terug vir geen ander teater nie. Die Steinway-konsertvleuel is ook nagegaan en gediens. Die stoele in die teater het nuwe stoffering gekry en die gebou is binne geverf. Daar is ook nuwe matte, ligte en verskeie ander klein veranderings aangebring om die teater esteties te verbeter.

“Akoesties-gewys is hierdie een van die beste teaters in die land. Dit is so ontwerp en gebou om self die mees kritiese fynproewer akoesties tevrede te stel,” sê Herman. Die teater met sy 488 sitplekke is ook een van die min teaters in die land wat ‘n orkesbak met plek vir 40 musikante het. Dit maak die teater ook geskik vir opera en ballet. Herman wil ’n patroon vestig van onder meer konserte van klassieke musiek op Sondae, jazz op Donderdae en gratis etensuur-konserte.

Back to top button