VEREENIGING – ‘n Oudonderwyser van die Vaaldriehoek het besluit om na 13 jaar in die onderwys die klaskamer vir die krieketveld te verruil.
Marius Enslin sê na langer as ‘n dekade in die onderwys is hy reg om hom voltyds op krieketafrigting en ontwikkeling van die sport in die Vaaldriehoek toe te spits.
Vir Marius was krieket nog altyd ‘n passie en ‘n lewenswyse.
Marius se nuutgestigde Boundary Warriors-krieket Akademie het ten doel om kinders tussen sewe en 13 se fiksheid, koördinasie, balans, soepelheid, leierskapvaardighede en selfvertroue te verbeter terwyl hulle meer oor die belangrikheid van spanwerk en strategie in krieket geleer word.
Marius en sy Boundary Warriors-span gee in die middae afrigting by Hoërskool Drie Riviere, Laerskool Voorwaarts en Laerskool D.F. Malherbe.
As onderwyser het Marius al ‘n ver pad in die onderwys geloop.
Hy was vir sewe jaar ‘n onderwyser by Laerskool Drie Riviere, twee jaar ‘n onderwyser by Alberton High School, een jaar ‘n onderwyser by Laerskool Unitaspark en was die afgelope drie jaar by Laerskool Republiek.
Gedurende sy tyd as onderwyser was hy ook by afrigting van skoolkinders betrokke.
Krieket kom eintlik al ‘n lang pad saam met Marius en is soos ‘n goue lint met sy lewensverhaal verweef.
Die veelsydige krieketspeler wat kan boul, kolf, veldwerk doen en as paaltjiewagter kan speel, was op skool kaptein van Hoërskool Vereeniging se eerstespan en later kaptein van die Vaal Pukke se krieketspan. Marius het ook Sedibeng se hoërskole en laerskole se spanne afgerig, sowel as Gauteng se o17 landelike krieketspan en Vereeniging-krieketklub.
Marius sê: “Gedurende my loopbaan as onderwyser was ek nog altyd baie passievol oor afrigting in krieket, maar ook ander sportsoorte. Daar is wonderlike geleenthede vir talentvolle krieketspelers in Suid-Afrika, maar in die Vaaldriehoek is dié geleenthede maar ‘n bietjie skaars. Die idee is om die geleentheid wat krieketspelers in stede soos Johannesburg gebied word ook na die Vaaldriehoek te bring.”
Marius wil volgende jaar ‘n o13-span van die Vaaldriehoek aan die Jozi Cricket League (JCL), die Jozi Cup en die Black Widow-toernooi laat deelneem, sodat hulle teen van die goudstad se topspanne kan deelneem en ondervinding opdoen.
Volgens Marius is sy krieket akademie nie net vir seuns nie, maar ook vir meisies.
Marius wil ook sy krieket akademie na Sasolburg, Parys, Heilbron en Heidelberg neem.
Mense wat belangstel om by die Boundary Warriors-krieket Akademie aan te sluit kan vir Marius Enslin by 066 257 9276 skakel of die Boundary Warriors se Facebookblad besoek.