News

Ontvoerde sakeman steeds vermis

Drie weke later en die polisie sê daar is steeds geen teken van die Vereenigingse sakeman wat by sy lekkergoedwinkel in die middestad ontvoer is nie.

VEREENIGING. – Daar is steeds geen teken van Irfaan Dadabhay, ‘n Vereenigingse sakeman wat in Augustus by sy sakeperseel in die middestad ontvoer is, nie.

“Die ondersoekers het bevestig dat die slagoffer nog nie gevind is nie,” het kol. Nxolo Kweza, ‘n polisiewoordvoerder, by navraag saaklik aan Vaalweekblad gesê.

Die polisie wou met vorige navrae ook nie veel inligting oor die saak verskaf nie aangesien die ondersoek in hierdie stadium sensitief is en die slagoffer steeds vermis word.

Talle lesers wou weet of Dadabhay al gevind is.

Dadabhay, eienaar van die gewilde Mimosa Sweets winkel in Vereeniging, is op Donderdagoggend 29 Augustus kort voor 09:00 ontvoer.

Beeldmateriaal van die voorval wys hoe gewapende mans een vir een by sy winkel instorm en hom dan aan die arms en bene uitdra en in ‘n motorvoetuig stop.

Volgens bronne is hy tydens die ontvoering raakgeskiet.

Vermoedelik dieselfde voertuig wat tydens die ontvoering gebruik is – ‘n maroen Hyundai sportnutsvoertuig – is later die dag naby die Phumasbethane informele nedersetting, ook bekend as ‘Phuma’s’ in Sharpeville gevind.

‘n Polisiewoordvoerder, konst. Busisiwe Sango, het vroeër bevestig dat daar bloedvlekke in die voeruig was.

Back to top button