Nuwe enkelsnit vir 4 Eva Young Band

Hulle nuwe enkelsnit is uit.

MEYERTON – Die 4 Eva Young Band se splinternuwe enkelsnit, Afrikaanse Tydlose Treffers, is ‘n smorgasbord van die beste wat tieners kan bied.

Dit beweeg tussen die dekades van die musiekbedryf rond – val tussen die spook van Uniondale en trek saam met die Byeboer vanuit Pelgrimsrus.

Sit ook saam met Sarie Marais by die walle van die Mooirivier.

Die amptelike musiekvideo, wat op ‘n plaas buite Heidelberg verfilm is, is Vrydag, 6 September op YouTube vrygestel en is sedertdien al meer as 3 000 keer gekyk.

Die snit bring ode aan van die musikant en liedjieskrywer Anton Goosen se grootste treffers.

’n Samevoeging van lirieke en musiek wat naatloos tussen die verskillende musikale oorgange spring.

Vaalweekblad verneem Goosen het reeds daarna geluister en is baie beïndruk.

Die groep het sedert vier jaar gelede al diep spore in die SuidAfrikaanse musiekbedryf getrap toe hulle heel eerste enkelsnit, Sunny Day, in 2020 uitgereik is.

Die 4 Eva Young Band. Van links: Zandri Bezuidenhout, Caitie Rock, Kosie Beukes en Johan van Rooyen.

Kort daarna het hulle hul eerste Afrikaanse enkelsnit Ek’s Net ‘n Kind vrygestel.

Verlede jaar het die talentvolle musiekgroep nog ‘n enkelsnit en video Tiekiedraai uitgereik, waarmee hulle met ‘n AfriIndietoekenning vir Beste Kinder Enkelsnit vereer is.

Die groep bestaan uit Caitie Rock (14), Johan van Rooyen (14), Zandri Bezuidenhout (12) en Kosie Beukes (17).

Die veelsydige Kosie is ‘n nuwe toevoeging tot die groep en kan glo 14 musiekinstrumente – insluitend kitare, klavier, banjo, trekklavier, orrel, mandolien, tromme, ukulele, mondfluitjie en melodika speel.

Hy vervang vir Reuben Herbst, die groep se voormalige baskitaarspeler, wat die groep onlangs verlaat het.

Die omslag van die 4 Eva Young Band se nuwe treffer.
Exit mobile version