EntertainmentNewsNews

Dié Roman speel af in die Vaal

Dis mos nou lekker, onse Vaalrivier en omgewing vasgevang in 'n roman.

VANDERBIJLPARK – Een van die Vaaldriehoek se bekende Romanza en kinderboekskrywers, Felicia Snyman-du Toit, loods eersdaags haar nuwe roman, Hartklop in kakie.

Die lekkerte van hierdie boek is dat dit eg-Afrikaans is en langs die Vaalrivier afspeel.

Francois en Stefanie Botha (die skrywer se neef en sy vrou) was die ideale modelle vir die voorblad van Hartklop in kakie. Foto: Pieter Pieters Photography

Felicia sê dit het alles begin toe haar dogter, Adelie, wou weet wie sal ‘n man in ‘n Boerboelkortbroek date?

“Net daar het ek die held van my boek gevind. ‘n Regte egte boerseun in ‘n kortbroek wat slaags raak met ‘n nooi uit die stad wat nie heeltemal verstaan hoe werk dinge langs die Vaalrivier nie.”

Oor die voorblad is daar ook lank gewik en weeg, uiteindelik het Felicia haar neef en sy vrou genader.

Hulle was dadelik gewillig om afgeneem te word. In rekordtyd het hul ‘n fotograaf in Klerksdorp gekry wat bereid was om die foto’s te neem, te redigeer en deur te stuur.

Toe die uitgewers begin gesels oor die bekendstelling, het Felicia geweet, dit moet in die Vaaldriehoek gebeur.

“Ek het Pont de Val in my agterkop gehad terwyl ek geskryf het en nou word die boekbekendstelling daar gehou,” vertel sy opgewonde.

Die groot dag vind Saterdag, 21 September om 17:00 plaas by Pont de Val in Vanderbijlpark.

“Dit gaan perfek wees. Ek en drie ander skrywers gaan gesels oor Hartklop in kakie so langs die Vaalrivier terwyl die son sak.”

Die ander skrywers wat by die bekendstelling sal wees is Didi Potgieter, Jaco Versveld en Louise van der Merwe.

Kaartjies beloop R300 per paartjie of R180 per persoon en sluit in canapés, ‘n geskenk, ‘n boek en wyn.

Die twee voorblad-modelle, Francois en Stefanie Botha, gaan ook die bekendstelling bywoon.

“Van my ander Romanzas en kinderboeke sal te koop wees. Die ander skrywers bring ook hul boeke saam en alles sal teen afslag beskikbaar wees.” Bespreek vandag nog

Back to top button