Musiek ‘n bestaanswyse vir dié Afri-Indie wenners

Die boeremusiek orkes se album is as Beste Instrumentele Album aangewys.

*Die storie het eerste in die gedrukte weegawe van Vaalweekblad verskyn. Koop ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste plaaslike nuus.

VANDERBIJLPARK – Boeremusiek is in hul bloed. Só vertel Martin Venter (konsertinaspeler) en Hannes Badenhorst (kitaarspeler) van die Kliprivier Boereorkes.

Die boeremusiekmakers se album Green Green Grass of Home is op 7 Augustus met ‘n Afri-Indie-toekenning vir Beste Instrumentele Album vereer.

Kliprivier Boereorkes het die album in samewerking met VatVas Dansorkes vrygestel.

Martin Venter (konsertinaspeler) en Hannes Badenhorst (kitaarspeler) van die Kliprivier Boereorkes. Foto: Christiaan Cloete

Martin, ‘n plaaslike sakeman wat lugversorgers installeer, en Hannes Badenhorst, ‘n lid van die polisie en hofordonans, kom hoofsaaklik oor naweke byeen om boeremusiek te maak.

Die twee het mekaar in 2010 vir die eerste keer ontmoet toe hulle deur ‘n gemeenskaplike vriend, wyle Tienie Bronkhorst (Hannes se skoonpa wat altyd saam tamboryn gespeel het) aan mekaar voorgestel is.

Hulle orkes was eers bekend as die Vaalrivier Boereorkes, maar die naam is later verander na die Kliprivier Boereorkes.

Martin Venter en Hannes Badenhorst van die Kliprivier Boereorkes

Hannes sê hulle is dankbaar vir die geleentheid en die talente wat die Vader hulle gegee het.

Dit was ongelooflik vir hulle om skouers te skuur met bekendes in die musiekbedryf.

Hulle is ook dank verskuldig aan hul vroue, families, vriende en die VatVas Dansorkes en KlankGrens Ateljee, wat hulle gehelp het om die album uit te bring.

Die album word op Vrydag, 16 Augustus op aanlynplatforms soos Spotify, Deezer, Amazon Music, Soundcloud en Tidal vrygestel.

Die Kliprivier Boereorkes se album Green Green Grass of Home, wat hulle saam met die VatVas Dansorkes vrygestel het, is aangewys as die Beste Instrumentele Album.
Exit mobile version