Liefde vir sang verander talentvolle tiener se lewe.

Sang het haar hele lewe verander.

MEYERTON. – Sy het begin sing nadat dokters ‘n lewensgevaarlike hart- en long defek by haar gediagnoseer het en daar gesê is dat sy vir haar eie veiligheid nooit weer aan sport sal kan deelneem nie.

Die singery het Caitie Rock toe so goed gedoen dat haar gesondheid as gevolg daarvan verbeter het.

Vandag kan sy nie alleenlik weer aan sport deelneem nie, sy is ook ‘n kranige atleet en netbalspeler.

Caitie is ook ‘n suksesvolle sangeres, lid van die gewilde 4 Eva Young Band, aktrise, model en ‘n ambassadeur vir die jeug.

Sy glo dat Liewe Jesus haar ‘n tweede kans gegee het, en dit is hoekom die bedrywige en talentvolle jongeling nie kan stilsit nie.

Caitie se verhaal is ‘n inspirasie vir kinders en wys waarom mens nooit moet opgee nie.

Caitie is op 16 Junie by die South African Children and Youth Awards by die Emperors Place Convention Centre, as ‘n jeugambassadeur vir SuidAfrika aangewys.

Sy het ook ‘n toekenning ontvang vir die liefdadigheidswerk waarby sy sedert 2021 betrokke is.

Caitie het in 2018 by liefdadigheidsprojekte betrokke geraak, aanvanklik om fondse in te samel vir ‘n vriendin wat met kanker gediagnoseer is.

Sy het daarna voortgegaan met haar liefdadigheidswerk. Caitie is ook gevra om tydens die South African Children and Youth Awards haar inspirerende lied “Carnival” te sing en het baie vriende gemaak met ander talentvolle jonges van regoor die land.

Dit sluit in ‘n 10-jarige platejoggie wat blind gebore is, die jongste internasionale modeontwerper en ‘n skoonheidskoningin wat ook vir Boland rugby speel.

Caitie Rock met die toekennings wat sy ontvang het.
Exit mobile version