Entertainment

Comrades marathon – ‘dis mal, maar lekker’

Brenché glo aan aanhou probeer en opgee is nie in haar woordeskat nie. Hierdie jaar het sy dit bewys deur die Comrades marathon te voltooi.

VAALPARK. – Hoërskool Vaalpark se adjunkhoof, Brenché van den Berg straal nadat sy vir die eerste maal ‘n Comrades marathon voltooi het.

“Ek wou hierdie jaar net klaarmaak, en ek het,” vertel sy vrolik, slegs ‘n paar dae na die moordende tog tussen Durban en Pietermaritzburg.

Brenché het by die 64 km merk regtig gesukkel. “Tot op daardie stadium het ek my man en kinders elke 10 km gesien.

“Was hul daar om my aan te moedig, maar ek het geweet na Drummond sien ek hul eers weer by die eindstreep.

“Ek het begin dink dit is nie die moeite werd nie, my wiele was pap,” vertel sy.

Sy onthou sy het gebid en die volgende oomblik het ‘n ouer man langs haar opgeduik en vir haar gesê: “Mam, it looks like you are struggling. If you allow me, I’ll help you to finish.”

Oageng Moiloa en Brenché van den Berg maak saam die Comrades klaar. Foto verskaf deur Brenché van den Berg

Die man was pastoor Oageng Moiloa wat al vyf Comrades marathons voltooi het. Saam het hul van lamppaal tot lamppaal gedraf en saam het hul klaargemaak.

Hierdie was nie haar eerste kennismaking met die Comrades nie. In 2023 het sy en haar man, Dean die tog aangepak, maar is ongelukkig verkeerdelik by Pinetown afgesny.

Hierdie jaar kon Dean weens ‘n besering nie deelneem nie, maar hy het haar met haar voorbereiding gehelp.

Oor die Comrades-belewenis kan Brenché nie uitgepraat raak nie. “Dit was net amazing.

“Ek dink nie daar was ‘n stukkie langs die pad waar daar nie ondersteuners was nie. Ek is nie die vinnigste nie en is deel van die massa wat loop as ek moeg raak.

“Dit maak alles net soveel lekkerder. Ek het tyd gehad om die race te geniet.”

Brenché het alle eer aan God gegee wat haar gesond en beseringvry gehou het en dankie gesê vir die skool se personeel en leerders wat haar elke keer ondersteun.

“Ek dink ek sal graag nog ‘n Comrades of twee wil aanpak. Hopelik dra ek die boodskap ook aan die leerders oor dat ons nie net moet opgee nie.”

Back to top button