CommunityEntertainmentLifestyleLocal newsNews

Energieke student uit die Vaal ‘n Miss Grand-finalis

Bianca is tans besig met ‘n projek om komberse in te samel - enige komberse, oud of nuut. Enigiemand wat komberse wil skenk, is welkom om haar te e-pos by bankies2000.blb@gmail.com.

MEYERTON. – “Baie probleme kan opgelos word as almal die regte opvoeding kry.” Só sê aspirant-onderwyseres Bianca Bezuidenhout (21) van Midvaal, ‘n finalis in vanjaar se Miss Grand-wedstryd.

Sy voel so sterk oor hoëgehalte onderwys dat sy tans besig is om haar vir dié beroep aan die Universiteit van Pretoria voor te berei om eendag ‘n verskil te kan maak. As deel van haar inskrywing vir Miss Grand het sy besluit om die behoefte aan goeie onderwys ook as onderwerp te kies waarvoor sy as finalis voorspraak doen.

Die lewenslustige Bianca is in 2000 in Alberton gebore maar woon nog die grootste deel van haar lewe in die Vaaldriehoek, waar sy onderhoofmeisie van die Laerskool Suikerbos sowel as die Hoërskool Dr. Malan was. Sy is mal oor sport en neem al van jongs af deel.

“Dit het begin met hekkies, en toe vind ek my ware liefde, driesprong,” sê sy. Sy kan daarmee spog dat sy in 2016 derde in haar ouderdomsgroep in Suid-Afrika geëindig het, en in dieselfde jaar die wenner by Atletiek Suid-Afrika (ASA) was.

Beeste is nóg een van Bianca se groot belangstellings. Sy is baie lief vir dié diere en het ook ‘n klompie van haar eie. Sy woon tans saam met haar ma langs die Suikerbosrivier in die Vaaldriehoek. Tans studeer Bianca aanlyn van die huis af maar wanneer klasse weer in lewende lywe hervat, sal sy gereeld deurry Pretoria toe. In Januarie was daar ‘n hartseer laagtepunt in hul lewe toe haar pa, wat aan ‘n seldsame outo-immuuntoestand Neuromyelitis optica (NMO) gely het, oorlede is.

“My pa het ‘n baie goeie hart gehad en het ook altyd mense gehelp. Ek glo dis waar my liefde vir gemeenskapsdiens ook ontwikkel het,” se Bianca.

Sy het vanjaar ‘n hele paar projekte as deel van haar Miss Grand-deelname aangepak, waarvan sommige al voltooi is. Sy het onder andere met die hulp van Tiaan Kruger van Subtropico Vereeniging wat vir haar groente geborg het, vir 60 mense sop gemaak en 70 groentepakkies voorberei, wat uitgedeel is aan mense in nood. Sy het ook 22 sakke klere ingesamel wat onder behoeftiges versprei is.

“Ek is baie bly dat mense danksy dié pogings gehelp kon word. Ek kon dit natuurlik nie alles alleen doen nie en kon dit net regkry met die hulp van familie en vriende,” sê sy. Sy bedank ook haar borge, 4Way Kwik Spar Three Rivers en JL Laser Clinic.

Bianca is tans besig met ‘n projek om komberse in te samel – enige komberse, oud of nuut. Dié wat te oud is om aan mense uit te deel, sal aan honde-vestings gegee word. Enigiemand wat komberse wil skenk, is welkom om haar te e-pos by bankies2000.blb@gmail.com.

Een van haar grootste rolmodelle is Jeane van Dam, die huidige Miss Grand SA, wat sy op Instagram volg. “Dit is waar ek die Miss Grand Pageant ontdek het. Ek het dadelik gedink ek wil deelneem omdat dit ‘n skoonheidswedstryd is en jy ‘n show girl-persoonlikheid moet hê, maar ook omdat hulle so sterk staan teen oorlog en wreedheid.”

Bianca besoek tans skole om kinders op die belangrikheid van Lewensoriëntering as vak te wys. “Die jeug is tog die toekoms van die land, dus begin ek by hulle,” sê sy.

 

 

Die pragtige Bianca Bezuidenhout (21) van Midvaal is ‘n finalis in vanjaar se Miss Grand-wedstryd.

 

************************************************************************************************

Back to top button