AmusingEntertainmentLifestyleLocal newsNews

Baas-ontsnapper gee toe ‘n ‘toorvertoning’ by die hof

Tussen 1963 en 1975 kon Jurie Wessels daarin slaag om 30 keer uit verskillende tronke dwarsoor die land te ontsnap

 

VEREENIGING IS VANJAAR 130 JAAR OUD. OM DIé MYLPAAL TE VIER, PLAAS VAALWEEKBLAD VANJAAR INTERESSANTE STORIES UIT DIE STAD SE OU DAE. HIERDIE IS EEN DAARVAN….

As jy verveeld raak en graag ‘n opwindende realiteitsreeks wil sien, kom sit ‘n paar ure in Vereeniging se landdroshof. Hier sal jy ware verhale vol menslike intrige, hartseer en humor beleef.

Een so ‘n geleentheid was in September 1975, toe Vaalweekblad se verslaggewers, aanklaers, landdroste, hofordonnanse en lede van die publiek na ‘n asemrowende goëlvertoning van Suid-Afrika se “tronk-Houdini”, Jurie Wessels, kon kyk.

Wessels, destyds 52, was besig om tronkstraf van 70 jaar uit te dien toe hy daardie dag in die Vereenigingse landdroshof op ‘n nuwe aanklag van ontsnapping moes verskyn.

Dié innemende kulkunstenaar se kennismaking met die tronk het al in die vroeë 1940’s begin nadat hy aan tjekbedrog en ander swendelstreke skuldig bevind is. Tussen 1963 en 1975 kon hy daarin slaag om 30 keer uit verskillende tronke dwarsoor die land te ontsnap, en elke keer as hy weer aangekeer is, is sy vonnis met nog ‘n paar jaar verleng.

Wessels was ‘n kok in die Vereeniging-gevangenis se kombuis toe hy vroeg in 1975 wéér ontsnap het. Ongelukkig vir hom is hy weer vasgetrek. Dis dié dat hy daardie dag in September toe weer in die hof moes verskyn. Dit het egter nie gelyk of die vooruitsig om ‘n langer vonnis te kry, ‘n skaduwee oor sy sonnige persoonlikheid gewerp het nie. Hy het dit duidelik geniet om die middelpunt van belangstelling te wees.

Hy was nie net ‘n meester met slotte nie. Terwyl die streng bewaakte Wessels gewag het dat sy saak moes begin, het hy die talle nuuskieriges in die hofgange met sy kulkunsies vermaak. Hy kon 50c-munte, wat destyds so groot en meer waardevol as vandag se R5’e was, in ‘n japtrap wegtoor en weer laat verskyn, en het vir meer as een omstander ‘n sigaret uit sy baadjiemoue getoor. Die polisiemanne wat hom bewaak het, kon net hul koppe skud en glimlag.

Die destydse Departement van Gevangenisse het die nuwe ontsnappingsaak uiteindelik teruggetrek en Wessels is onder bewaking teruggeneem na ‘n gevangenis in Johannesburg. Dit is nie bekend of hy ooit weer ontsnap het nie, maar hy het sekerlik weer probeer. Sy afskeidswoorde aan Vaalweekblad se verslaggewers by die hof was dat die tronk wat hom gaan binne hou, nog gebou moes word. Hy hou steeds die rekors as die man wat die meeste kere uit Suid-Afrikaanse tronke ontsnap het.

*******************************************************************************************************************

Back to top button