Ou Vereeniging: Mismoedige jongman vertel later sy suksesverhaal

Hy het Vereeniging toe nooit verlaat nie en is uiteindelik, baie jare later, hier oorlede.

Dit is die jaar 1918 in Vereeniging. Die Duitse hoofingenieur wat betrokke is by die oprigting van die nuwe kragstasie in Vereeniging, stap verby die dorp se treinstasie en sien ‘n jong man wat bedruk op sy bagasie sit.

“Nou wat lyk jy so mismoedig,” vra die hoofingenieur.

“Ek wag vir die trein na Johannesburg, want hierdie klein dorpie is nie vir my nie,” antwoord die jong man.

“Moenie moed verloor nie. Ons is besig met die oprigting van ‘n nuwe kragstasie en binnekort kom hier ‘n groot staalfabriek. Die dorp gaan geweldig uitbrei en een van die mooistes en grootstes in die land word. Ek stel voor dat jy jou bagasie terugneem en wag op die toekoms,” was die hoofingenieur se raad.

Die jong man was die apteker, mnr. J. Drubin, wat toe maar terug is na sy blyplek in Vereeniging en ‘n klein apteek langs die Grand Hotel oopgemaak het. Sy onderneming het in die opvolgende dekades die bekendste apteek in Vereeniging se sakesentrum geword.

Mnr. Drubin, wat reeds 73 was toe hy sy verhaal in 1967 aan Vaalweekblad vertel het, het gesê dat sake maar stil was in Vereeniging se vroeë jare. Sommige dae was dit so stil dat hy sommer vroegoggend die deure gesluit het. Sy kliënte was hoofsaaklik plaasboere wat een keer per maand medisyne vir hul noodhulpkissies by hom kom aanvul het. As jy saans in Vereeniging se hoofstraat (toe nog bekend as Main Street) gaan stap het, moes jy versigtig wees om nie in ‘n slaggat te val en jou been te breek nie. Daar was net een straatlig wat net na sononder aangesteek is. In die beginjare was daar natuurlik nog nie sprake van elektriese krag nie.

Mnr. Drubin het vasgebyt en inderdaad gesien hoe die jong Vereeniging stelselmatig tot ‘n modeldorp ontwikkel. Die sakesentrum was teen die 1930’s reeds ‘n miernes van bedrywigheid en sy apteek het dekades lank geblom.

“Ek is so dankbaar ek het hier gebly en op die toekoms gewag. Ek wens ek kon die hoofingenieur vir sy goeie raad van daardie dag in 1918 bedank,” het hy in 1967 aan Vaalweekblad gesê.

Mnr. Drubin het Vereeniging toe nooit verlaat nie en is uiteindelik, baie jare later, hier oorlede.

 

Vereeniging se treinstasie in die vroeë 1900’s.

******************************************************************************************

Exit mobile version