Sotho-spreker is ‘n wenner in Afrikaanse blokraai!

Dié Sasolburger praat vlot Afrikaans soos wat hy dit in Jagersfontein in die Vrystaat geleer het

  SASOLBURG. – Dis nie aldag dat ‘n Sotho-spreker met ‘n wenprys in ‘n Afrikaanse blokraaiwedstryd wegstap nie, maar dit is wat mnr. Petrus Lekhooa van Zamdela, Sasolburg, reggekry het. Hy was een van die maandwenners in Vaalweekblad se blokraaisels en het R500 kontant van Bar With No Name en ‘n herdenkingsboek van Vaalweekblad gewen. Petrus sê hy was nog altyd ‘n Vrystater: Hy is in die myndorp Jagersfontein anderkant Bloemfontein gebore. Dit is daar waar hy so goed Afrikaans leer praat het. In 1975 het hy na Sasolburg verhuis, waar hy eers as petroljoggie gewerk het. Hy was daarna ‘n agent vir ‘n winkel en het ook by LTA gewerk voordat hy ‘n pos by Sasol gekry het. Hy is nou reeds op pensioen maar koop nog elke week sy Vaalweekblad en vul ook elke week die blokkiesraaisel in. “As ek nie dadelik die antwoorde kry nie, lees ek die koerant weer van hoek tot kant deur,” sê hy. Petrus beplan om sy wengeld te gebruik om saam met sy gesin te gaan uit eet. * Koop hierdie week se Vaalweekblad om ook deel te neem aan die blokkiesraaisel en staan ‘n kans om minstens R1500 se pryse per maand te wen.

Mnr. Petrus Lekhooa van Zamdela, Sasolburg.
Exit mobile version