AmusingEntertainmentNews

Argiefberig: Die Vaaldriehoek kry eerste vuurpyllanseer-aanleg in Afrika!

DBV bekommerd oor lanserings se effek op diere, maar toerisme-organisasies juig.

LEES EERS HIER:  1 April, Gekkedag, is nou verby, maar ‘n paar lesers soos Anelle Botma, Yolandi van Heerden, Wilma Swindon, en Michelle Bates het Vaalweekblad gevra om weer 2009 se “April Fool” berig oor ‘n vuurpyl-lanseerstasie vir die Vaaldriehoek, te plaas. Neem dus kennis dat die inhoud van dié berig met opset vals is! Van die mense na wie in die berig verwys word, soos mnr. Tielman Slabbert en mev. Olly Oosthuizen, is intussen oorlede. Ons onthou hulle met liefde. – Vaalweekbladspan.

VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek gaan binne die volgende vyf jaar letterlik na die sterre reik wanneer ‘n uitgebreide vuurpyllanseringsaanleg, die eerste in Afrika, in die gebied open.
“Die omvang en betekenis hiervan is enorm vir die Vaaldriehoek. Dit gaan ons gebied herskep tot die ekonomiese gloriedae soos dit vir dekades na die oprigting van Yskor was,” sê mnr. Johan Sittig, voorsitter van die Vanderbijlpark Sakekamer.
Die verrassende nuus het verlede week tydens ‘n perskonferensie by die Baikonur Cosmodrome in Rusland uitgelek, toe die Hongaarsgebore sakeman, Charles Simonyi, deel was van ‘n bemande ruimtesending in die Russiese Soyuz TMA-14 ruimtetuig. Simonyi, wat sy fortuin uit rekenaarsagteware gemaak het en ‘n groot ondersteuner van ruimtevaart is, het laat glip dat onderhandelings met die Suid-Afrikaanse regering en ander hooggeplaastes ver gevorderd is om die lanseerstasie in die Vaaldriehoekgebied op te rig.
Die asemrowende implikasies hiervan is dat sowat twintig plase in die Vaaldriehoek, Metsimaholo en Vredefort-gebied opgekoop gaan word vir dié ontwikkeling van honderde miljarde rand. Na verwagting sal meer as 15 000 werknemers, meestal hooggeskoolde ingenieurs en tegnici uit alle wêrelddele, saam met hul gesinne hier hervestig word.
Die ontwikkeling sal deur Simonyi en ‘n Indiese konglomeraat onderneem word. Indië word reeds as ‘n gerekende krag op die gebied van ruimtevaart beskou. Die Universiteit van Stellenbosch, wat onlangs hul wêreldgehalte navorsing oor nuwe materiale vir ruimtetuie bekend gestel het, is ook by die projek betrokke.

‘n Woordvoerder van die Indiese konglomeraat, mnr. Keg Lirpa, het aan Vaalweekblad bevestig dat planne aan die gang is om boere in die gebied teen etlike miljoene rand uit te koop. Hy sê ook ‘n plaaslike staalnywerheid het reeds aansoek gedoen om regte te bekom vir die vervaardiging van die uiters gespesialiseerde liggewig staal waarvan ruimtetuie gemaak word. Die ruimtetuie gaan in die Vaaldriehoek gebou word, nadat omvattende uitbreidings by ‘n bestaande nywerheid afgehandel is. Voormalige sleutelpersoneellede van Nasa gaan in ‘n toesighoudende hoedanigheid ingehuur word en het reeds hul volle ondersteuning aan die projek toegesê.
“Ons kon nie vra vir ‘n beter ligging vir die beplande lanseeraanleg nie. Die Vaaldriehoek is bekend vir sy staalvervaardiging en petrochemiese nywerheid – twee noodsaaklikhede in ons bedryf,” sê Lirpa.
“Boonop is die aarde se liniêre snelheid hier, sowel as die Vaaldriehoek se relatief suidelike ligging, ideaal vir lanserings. Dit sal ruimtetuie die voordeel bied om in ‘n oostelike rigting op te styg – dieselfde rigting as die aarde se rotasie,” verduidelik hy.
Hoewel die aanleg hoofsaaklik kommunikasiesatelliete gaan opstuur, sal bemande ruimtereise ook onderneem word. As ‘n gemeenskapsdiens gaan minstens twee Vaaldriehoekers jaarliks gekies word om kort ruimtereise as toeriste mee te maak, beloof Lirpa.
Een van die implikasies van die beplande lanseerstasie is dat geen kommersiële of ander vliegtuie meer binne ‘n radius van 70 kilometer oor die Vaaldriehoek se lugruim sal mag vlieg nie.
Mnr. Tielman Slabbert, voorsitter van die Vaalskou-raad, sê hy het gemengde gevoelens hieroor, aangesien plaaslike vlieëniers al jare voorbrand maak vir ‘n goedere-lughawe in Vereeniging. “Maar al is daardie planne nou van die baan, moet ons seker aan die groter belang van ‘n lanseerstasie vir ons gebied dink,” sê hy.
Mev. Tessa Pienaar van die Vaaldriehoekse Toerismevereniging, meen die ontwikkeling gaan net voordele vir die Vaaldriehoek inhou. “Duisende welvarende toeriste gaan jaarliks na ons gebied stroom om die lanserings vanuit lugtorings, sowat 1.5 km vanaf die lanseerstroke, dop te hou. Sestig vyfster-gastehuise met hoë uitkykpunte word reeds rondom die aanleg vir dié doel beplan,” sê sy.
Nie almal is ewe geesdriftig nie. Mev. Maureen Dosoudil, kampvegter teen gevaarlike tegnologie, sê sy gaan dié ontwikkeling nie sit-sit aanvaar nie. “As julle gedink het ek het hard geveg teen selfoonmaste, gaan julle nou die wáre tierkat in my ontmoet,” sê sy.
Ook mev. Olly Oosthuizen van die DBV sê sy gaan die ontwikkeling sterk teenstaan. “Hoe lank veg ons nie al om vuurwerke afgeskaf te kry nie? Nou kom hier buitelanders aan wat ons aan die ultimate fireworks wil blootstel! Ek hoop mnre. Lirpa en Simonyi klim wydsbeen op hul vuurpyle en lanseer hulself na ‘n planeet baie ver weg van die Vaaldriehoek,” sê sy.

So sou die Vaaldriehoek se “vuurpyllanseerplatform” lyk – Foto: Facebook

Back to top button