AmusingEntertainmentNews

Dié deftige “moet-troue” is in net 3 dae gereël!

"Ek is so verlief op my trourok en die hele dag was sommer net wow!" sê Hettie.

VEREENIGING. – Toe Hettie Venter van Vanderbijlpark ‘n paar jaar gelede ‘n oogtoets moes ondergaan, het sy min geweet dat sy die man van haar drome net daar in die praktyk gaan ontmoet. Optometris Kevin Meiring het nie net dié sprankelende meisie se mooi oë raakgesien nie… hy het dadelik sy hart op die hele Hettie verloor. ‘n Mens kan met reg sê dit was liefde met die eerste “oog”-opslag!
Die liefde het geblom, en hoewel hulle daarvan gedroom het om eendag te trou, moes hulle eers vele uitdagings oorkom. Een daarvan was dat hulle Kevin se nuwe optrometrispraktyk moes vestig en opbou – ‘n taak wat feitlik al hul tyd, energie en fondse geëis het. Tussendeur was daar die Covid-inperking wat min geleentheid vir trouplanne gelaat het.

In Desember verlede jaar het die Riviera-on-Vaal Hotel, in samewerking met OFM, ‘n kompetisie geloods om ‘n deftige troudag en onthaal aan te bied vir ‘n paartjie wat weens die inperking nog nie kon trou nie. Die troudatum sou saamval met vanjaar se Valentynsweek. Die Riviera-on-Vaal Hotel, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar herdenk, is baie gewild as trou-venue en bekend vir sy verruklike ligging langs een van die mooiste dele van die Vaalrivier.
Kevin en Hettie het ‘n kans gevat en met ‘n video van hulself en ‘n wedstrydmotivering ingeskryf. Daarin vertel hulle van die uitdagings van hul nuwe praktyk wat te midde van die pandemie geopen is, en van hul spanwerk wat die basis van hul sukses vorm: “Ons geniet die voorreg om saam te werk, saam te bou en saam te groei. Ons het ‘n goeie fondasie gelê en wil die vrugte van ons harde werk graag as man en vrou geniet. Weens Covid is ons planne uitgestel, maar dis nou tyd om ons liefde met ‘n troue en wittebrood te vier voor die verwagte Vyfde golf in Mei aanbreek.”
Op Vrydag, 4 Februarie, is vier finaliste gekies en op Facebook geplaas vir openbare stemming. Die verkiesing het Dinsdag, 8 Februarie gesluit, en die gelukkige wenners is op Woensdag, 9 Februarie regstreeks op OFM se Good Morning Breakfast-program aangekondig. Groot was Hettie en Kevin se blydskap toe hulle as wenpaartjie aangekondig is. Maar toe kom die besef… volgens die wedstrydreëls moes die troue op Saterdag, 12 Februarie, net voor Valentynsdag plaasvind. Daar was dus net drie dae oor om reëlings te tref!

“Ons ontwerper het my rok en die res van die Meiring-familie se uitrustings in net drie dae gemaak. Ek is so verlief op my trourok en die hele dag was sommer net wow! Amanda Vermeulen, troue- en funksiekoördineerder van Riviera-on-Vaal Hotel, het alles gereël en dit was sprokiesmooi. Omdat ek nie ‘n prentjie gehad het oor hoe ek dit wou hê nie, was daar geen verwagtinge van ons kant af nie, so dit was alles net vir ons so, so, so mooi,” sê Hettie.
Die paartjie se indrukwekkende prys het ‘n lokaal vir 50 gaste ingesluit, asook dekor, ‘n driegangmaaltyd, verblyf vir die bruidspaar, ‘n fotograaf, ‘n seremoniemeester, ‘n platejoggie sowel as ‘n wittebroodsvakansie in die mooiste Kaap, wat die wenpaartjie binne die volgende ses maande kan geniet.
“Ons voel geseënd om deel te kon wees om hierdie ​​paartjie se droom te bewaarheid,” sê Daniel Tharratt, algemene bestuurder van die Riviera Hotel.
* Hoewel die hardwerkende Meiring-egpaar nog nie dadelik ‘n gesin beplan nie, klink Vaalweekblad ‘n glasie op hul geluk en wens hulle “kinders by die dosyne” toe!

 

 

Back to top button