Kom kuier by Ankerskool se Kersmark!

Hier wag groot pret op 4 en 5 Desember

VANDERBIJLPARK. – Die Ankerskool se bekende Kersmark is voor die deur! Op 4 en 5 Desember maak die skool sy hekke oop vir die interessantste fees van die jaar!
Dit gaan sekerlik ook die bekostigbaarste jol wees wat jy hierdie Kerstyd gaan bywoon. Toegang is slegs R10 per persoon of R50 per motor. Alle Covid-reëls sal streng nagekom word. So, onthou jou masker!


Die Ankerskool se jaarlikse Kersmark is ‘n hoogtepunt op die kalender vir baie Vaaldriehoekse inwoners. Dit gee ons daardie een-keer-per-jaar geleentheid om die handewerk van die skool se vaardige leerlinge van naderby te beskou en Kersgeskenke vir die hele gesin te koop. Hier vind jy die swierigste houtwerk en stewigste metaalwerk, wat ideale geskenke vir die manne sal wees, of fyn handwerk en kunswerke vir kieskeurige vroue. Of jy nou soek na iets prakties of pragtig, jy kan seker wees dat jy dit by Die Ankerskool se Kersmark gaan vind.

Buiten die normale braaiers, houtbankies, houttafels, bomas, skinkbordstelle, kersversierings, fotorame en ‘n groot verskeidenheid ander hout- en staalartikels is daar vanjaar ook verskeie nuwe items waaruit kopers sal kan kies. Uitstekende vakmanskap is al sinoniem met Ankerskool se produkte, en boonop vergelyk die gehalte en pryse uitstekend met dié wat jy in winkels te koop kry.


Ankerskool se dogters wys vanjaar ook weer dat hulle kan raakvat waar dit by fyn handwerk kom. Hulle artikels soos kunstige plekmatjies, sleutelhouers, voorskote en borsspelde is altyd hoog in aanvraag en is ook ideale Kersgeskenke. As jy bekommerd is dat jy na al jou gesnuffel deur die stalletjies honger en dors gaan wees, wees nie bevrees nie – hier gaan meer as genoeg te ete en te drinke wees as die hongerpyne begin knaag!

IFM sal sorg vir musikale vrolikheid.


Die hekke open Vrydag, 4 Desember om 08:00 en sluit om 15:00. Saterdag, 5 Desember, open dit 08:00 en sluit om 14:00.
Kom maar vroeg om teleurstelling te voorkom, want die gewilde produkte verkoop gewoonlik vinnig uit!

“Ons sien uit daarna om al ons vriende en ondersteuners weer in die oë te kan kyk!” is die skool se boodskap.
Laatminuut-uitstallers wat nog in ‘n uitstalruimte belangstel, kan die skool by 076 288 2649 skakel.

As jy vanjaar nie persoonlik kan kom saamkuier nie, besoek gerus Die Ankerskool se aanlynwinkel by: www.dieankerkersmark.co.za

Exit mobile version