Valies wil die wêreld brei-brei verbeter!

Sluit aan by dié projek en wees deel van TWEE wêreldrekords!

 

Die geesdrif loop hoog vir die Goue Driehoek Sakekamer, Rotary Vaal en LUSA Gemeenskapskas se brei-projek waarmee hulle ‘n wêreldrekord wil opstel.
Die hoofdoel met die projek is om geld vir minderbevoorregtes in te samel.
Die lekker daarvan is dat almal in die Vaaldriehoek en die res van Suid-Afrika by die projek kan aansluit en deel wees van die grootste liefdadigheidsfees ooit in die Vaaldriehoek.
Op 8 en 9 Junie pak die organiseerders saam met elke Vaaldriehoeker ‘n Guinness World-rekord by die DP de Villiers-stadion in Sasolburg aan. Eerstens gaan gepoog word om die grootste handgebreide kombers in die wêreld te laat registreer en tweedens, om die meeste komberse ooit binne 24 uur aan liefdadigheid te skenk. Die plan is om dan ‘n allermintige 9 075 komberse aan behoeftige mense in die Vaaldriehoek te gee.
Tesame met hierdie twee rekords gaan daar op 8 en 9 Junie lekker fees gevier word, en daar gaan vele aktiwiteite vir oud en jonk wees: ‘n 4×4 baan, spesiaal vir elke adrenaliengeesdriftige, ‘n bergfietswedren, gereël deur die immergroen Louis Harmse, en natuurik ‘n mallemeule vir die kleingoed.
Daar gaan restaurante met heerlike eetgoed wees en stalletjies om te verken, terwyl meer as 2 000 breiers gaan toekyk hoe hul handewerk aanmekaar gesit en gemeet word.
Die ouers kan lekker ontspan in die biertuin terwyl hulle luister na sangers soos Juan Boucher, Refentse, Ray Dillan en Pieter Koen, om maar ‘n paar te noem – almal op een verhoog.
Die organiseerders nooi graag elkeen om betrokke te raak by die projek, veral vroue wat ook wil help brei.
Skakel gerus vir Jaco by 082 823 5911 of Sandy by 071 623 9608 vir meer inligting en dagboek solank 8 en 9 Junie om deel te wees van ‘n geleentheid wat die wêreld gaan verander!

Exit mobile version