AmusingEntertainmentLifestyleLocal newsNews

Valia se klas van 1968 onthou skool se vroeë jare

Die 1968-matriekklas van die Hoërskool Transvalia was bekend as ‘n lewenslustige span tieners. Vandag, 50 jaar later, is die meeste se hare silwer, maar hul oë skitter steeds met dieselfde lewenslus.

 
VANDERBIJLPARK. – Die klas van 1968 het onlangs uit verskillende dele van die land by die skool se klubhuis bymekaar gekom vir hul 50ste matriekreünie, wat deur komitees onder leiding van Fanie Snyman gereël is.Volgens Hercules Swart, een van die oudmatrieks wat al dekades lank ‘n netwerk behartig om die groep bymekaar te hou en inligting oor mekaar se wel en wee onder die groep versprei, was daar destyds ‘n besondere gees onder die leerlinge wat tot vandag toe duidelik voelbaar is. ‘n Hele klompie matrieks van 1969 het intussen ook by die klas se reünies “aangehaak”. Sommige van die oudmatrieks wie se ouers jarelange vriende was, ken mekaar reeds van driejarige ouderdom af. Ander het mekaar reeds in die kleuterskool ontmoet.

“Later was baie van ons saam op laerskool en is saam-saam hoërskool toe. ‘n Groep manne uit ons klas het in die Weermag in dieselfde eenheid diens gedoen en ook dieselfde kwartiere gedeel. Daar was ook klasmaats wat later in dieselfde koshuis op universiteit was. Ja, ons kon maar nie van mekaar ontslae raak nie,” sê Hercules, wie se ma, wyle mev. Boegoe Swart, ‘n bekende wiskundeonderwyseres by Transvalia was en later die eerste vroulike burgemeester van Vanderbijlpark geword het.

‘n Klompie lede van die klas van 1968 is reeds oorlede, maar die netwerk sluit nog 45 oudskoolmaats in, van wie sommige nou in Amerika, Kanada en Australië woon. Negentien klasmaats het vanjaar se reünie bygewoon. Twaalf gades, drie oud-onderwysers en ‘n skoolverteenwoordiger het ook in die pret kom deel.

“Ons het werklik ‘n groep wat uitgestyg het met prestasies in die mediese, finansiële, onderwys, regte en ander beroepslyne, en ons glo ons onderwysers het ook baie daarmee te doen gehad. Transvalia bestaan reeds sedert 1958 en het veral in 1963 en 1964, toe ons in standerd 6 was, groot opgang gemaak . Transvalia het daardie jare vir die eerste keer die interhoër begin wen en gee sedertdien die pas aan op die gebied van sport, kultuur en akademie. Ons is dankbaar en trots daarop dat ons as groep, saam met ons voorgangers, kon help om ‘n stewige fondasie te vestig waarop Transvalia nog tot vandag toe kan voortbou,” sê Hercules. Die groep van 1968 beoog om voortaan meer gereeld op streeksvlak bymekaar te kom en in 2023 hul 55 jaar te vier.

Christo de Beer (regs), ’n lid van Transvalia se matriekklas sowel as die rugby-eerstespan in 1968 en ‘n komiteelid wat die reünie help organiseer het, ontvang hier ‘n toekenning van Chip Joubert, 1968 se onderhoofseun, en Elsa du Plessis Matthews, destydse hoofmeisie van die skool.
Hercules Swart, wat steeds energiek daaraan werk om Transvalia se matriekklas van 1968 ingelig te hou oor mekaar se doen en late, word hier tot “ridder” geslaan deur Chip Joubert, 1968 se onderhoofseun.

 

Back to top button