AmusingCommunityEntertainmentEventsLifestyleLocal newsNews

Unieke fees vir kinders kom!

Dagboek solank hierdie pretgeleentheid waar kinders die middelpunt gaan wees

 

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek het baie feeste, maar nie een waar kinders die middelpunt is waarom alles draai nie. Nou kom hier egter ‘n fees met ‘n nuwe konsep, naamlik waar kleingoed en skoolkinders al die aandag gaan kry wat hulle verdien!

Die fees, wat ‘n jaarlikse instelling gaan word, gaan as die Tjokkerfees bekendstaan en vind plaas op 3 en 4 November by Tjokkerland se terrein in J. Van Mellestraat, Vanderbijlpark.

Hoewel die ouer garde natuurlik baie welkom is, gaan die fees fokus op kinders van alle ouderdomme – van voorskoolse babas en kleuters tot laer- en hoërskoolkinders.

Op Vrydag, 3 November, begin die pret om 12:00 met Sonja Herholdt en Tjokkie se vertoning. Om 14:00 begin die uitdunne van al die talentwedstryde. Daar gaan ook ‘n pretpark en lekker vermaak vir die jongklomp wees, en die aand tree die gewilde Kwaggabees op.

Toegang vir die Vrydag is R40 per persoon. Kleingoed jonger as twee jaar kom gratis.

Saterdag, 4 November, kom Lollos, Ollie die Nar, Ricky Faber en Josh Kempen aan die beurt om vermaak aan jonk en oud te verskaf. Die pret begin die Saterdagoggend reeds om 08:00 met ‘n candy run, waarna ‘n babawedstryd, ‘n koekversierkompetisie, ‘n talentkompetisie, danswedstryde en pompom-vertonings gaan volg.

Modelle en verskillende skole se koorgroepe gaan daarna aan die beurt kom. Die jongklomp moet so gou as moontlik inskryf want groot pryse is op die spel!

Daar sal tydens die fees interessante kosstalletjies met spesiale kossies en lekkernye vir babas en kinders van alle ouderdomme wees, maar daar sal beslis ook gesorg word vir die ouers sowel as vir oupa en ouma!

Die stalletjies sal veral fokus op opvoedkundige en handgemaakte speelgoed, tersiêre instellings en beroepsleiding vir ouer kinders.

Toegang op die Saterdag is R60 per persoon. Kleingoed onder twee jaar kom weer gratis.

Alle stalletjiehouers, tersiêre instellings en skole wat graag ‘n uitstalruimte wil bespreek of kinders vir die talentwedstryde wil inskryf, kan Ansie by 076 562 8275 skakel of SMS.

Die Rotariërs se Children for Children-projek en die Purple Foundation is onder die welsynsgroepe wat by die dag gaan baat. Alle skole van die Vaaldriehoek sowel as van omliggende gebiede soos Parys, Heilbron en Heidelberg word hartlik uitgenooi om deel te neem. Dagboek dit sommer nou reeds en maak seker julle is dáár!

Lollos kom die kleingoed op 4 November vermaak.

 

Back to top button