Dis weer tyd vir Valie-karnaval!

Op Saterdag, 5 Augustus, is dit weer tyd vir die Laerskool Vaalrivier se opwindende jaarlikse Valie-karnaval

VANDERBIJLPARK. – Op Saterdag, 5 Augustus, is dit weer tyd vir die Laerskool Vaalrivier se opwindende jaarlikse Valie-karnaval en die dag beloof om weer eens propvol pret te wees.

Van die interessanthede op die program is ure se mini-hokkie, helikoptervlugte, motorfietswaaghalse en die alombekende 4×4-kompetisie op Laerskool Vaalrivier se goed ontwerpte 4×4-baan, wat ‘n uitdaging aan selfs die mees vernuftige 4×4-bestuurders gaan bied.

Almal met ‘n 4×4 is welkom om hul vaardigheid op die proef te kom stel. Skryf die oggend by die skool in.

Aan musiek gaan daar ook geen tekort wees nie. Gaskunstenaar Dusty Dixon gaan die voete laat jeuk, terwyl die Skemeraand Orkes jou gaan laat terugverlang na die dae van sokkie en langarm dans.

Wees ook nie bevrees dat jy dalk dors gaan word of honger gaan ly nie. Daar sal ‘n verskeidenheid stalletjies wees wat heerlike kos, sop en lekkernye soos pannekoek gaan verkoop, terwyl interessante handelsware ook uitgestal en verkoop sal word. Maak dus seker jy bring jou beursie saam!

Die hekke open die oggend van 5 Augustus reeds om 07:00. Toegang is spotgoedkoop: R10 per voertuig, plus R10 vir hoërskoolkinders en volwassenes, terwyl laerskoolkinders en die voorskoolse outjies gratis inkom. Bring dus sommer die hele gesin saam!

Toeskouers by die hokkie of 4×4-baan kan hul eie opvoustoele en sonsambrele saambring.

Die skool is op Nanescol-hoewe 85, Vanderbijlpark.

Nadere besonderhede is beskikbaar by die skool by (016) 987 2610, of skakel Burt by 083 508 9239.

Foto: Dusty Dixon se musiek gaan jou tone laat krul!

 

.

 

Exit mobile version