Wat het met Manie gebeur?

Het 'n engel dié gewilde sanger op sy knieë gebring?

Retha Fitchat

VEREENIGING. – Het die Vaaldriehoekse sanger, Manie Jackson, oor wie vroue van alle ouderdomme smeul, net skeef getrap, berg-af gegly en per ongeluk op een knie voor sy pragtige vriendin beland… of het hy dalk die Groot Vraag gevra?

Manie, een van die hubaarste manne op die land se musiekfront, wat danksy sy sagte oë, warm persoonlikheid en fluweelstem ‘n gunsteling by oud en jonk is, het op Vadersdag ‘n foto van homself en die mooi Country-sangeressie, Angel de Lange, op sy Facebook-blad geplaas waar hy op een knie voor haar hurk.

Dit is geneem tydens ‘n Vadersdag-uitstappie na haar familieplaas buite Groot Marico.

Hoewel die twee al ‘n geruime tyd in mekaar se geselskap gesien word, is dit egter steeds ‘n geheim of hulle stil-stil verloof geraak het, en of sy bewonderaars ‘n verkeerde afleiding maak.

Op Vaalweekblad se navraag oor wat die foto beteken, wou Manie nog nie kommentaar lewer nie. Hy skerts by sy Facebook-inskrywing dat Angel hom gevang het toe hy amper by die berg afgeval het. “Gelukkig was Angel by om my val te keer,” het hy met glimlaggende gesiggie-emoticons daarby geskryf.

“Ons gun hom al die geluk in die wêreld nadat hy die afgelope jaar deur ‘n pynlike tyd is,” sê een van sy geswore bewonderaars.

Manie het vroeër vanjaar onthul dat hy stresverwante probleme ontwikkel het ná die dood van sy pa, met wie hy ‘n baie hegte band gehad het.

Intussen vaar Manie se album, Sprei jou Vlerke , uitstekend nadat vroeër die maand bekend gemaak is dat die album nou reeds die 40 000-verkopemerk bereik het en dus platinumstatus verwerf het.

 

Foto: Manie se mooi vriendin, die Country-sangeres Angel de Lange.

Exit mobile version