AmusingBlogsCommunityEntertainmentLifestyleNewsOpinions

Sewe bekostigbare maniere om Valentynsdag te vier

Dink jy jy het te min geld, idees of tyd om Valentynsdag besonders te maak vir jou liefie? Hier is raad om dit onvergeetlik te maak!

 

Williene Uys

Meeste van ons wil graag Valentynsdag op ʼn spesiale wyse vier saam met ons geliefde,  maar finansies of ʼn gebrek aan idees weerhou ons dalk daarvan om die dag ten volle te geniet. Hierdie spesiale dag gaan inderdaad nie oor luuksheid nie, maar eerder oor die kwaliteit tyd wat jy en jou geliefde saam spandeer.  So, indien jy nog besluiteloos is of die dag op ʼn ekonomiese wyse wil benader , hier is  7 maklike en bekostigbare  idees om Valentynsdag te vier:

  1. Bier proe

Wie het ooit gesê dat bier proe nie in jou sitkamer kan plaasvind nie? Gaan koop ʼn verskeidenheid  blikkies bier en eethappies en geniet die wonderlike bekostigbare ervaring. Hierdie is beslis ʼn wenner indien jou geliefde ‘n bierliefhebber is.

 

  1. Arkade aand

Daar is niks meer opwindend as om weer ʼn kind te wees nie. Los die verantwoordelikhede by die huis en wees weer ʼn kind vir ʼn aand. Jy en jou geliefde kan die essensie van kindwees weer proe deur die dag of aand deur te bing by ʼn arkade. Julle kan selfs ʼn kompetisie maak daarvan deur te kyk wie die meeste koepons kan wen.

 

  1. Herskep julle eerste date

Wat kan beter wees as om liefde te vier deur julle verliefdheid te herroep. Jy kan selfs, indien jy vir jou geliefde op julle eerste date ʼn geskenk gekoop het, ʼn soortgelyke geskenk koop wat net sal toevoeg tot die nostalgiese herinneringe aan julle jong verliefdheid,

 

  1. Bordspeletjies

Spandeer kwaliteit tyd op ʼn prettige wyse saam deur julle gunsteling bordspeletjies te speel. Indien julle kinders het kan die kinders die dag sommer saam met julle vier en deel wees van die pret.

 

  1. Gaan kyk na die sonsondergang

Vier die dag deur ʼn opwindende uitstappie op soek  na die perfekte plek om na die sonsondergang te kyk. Koop ʼn bottel sjampanje en vier julle liefde terwyl julle die dag groet.

 

  1. Masterchef-styl kookkompetisie

Elk van julle kies ʼn resep van julle keuse en berei die dis voor vir die ander. Hierdeur kan julle  kwaliteit tyd saam spandeer terwyl julle die ander een probeer beïndruk met julle kooktalente.

 

  1. Piekniek in die sitkamer

ʼn Romantiese kersligpiekniek in die sitkamer is ʼn maklike, bekostigbare manier om die dag te vier. Julle kan selfs julle gunsteling dvd kyk of net die stilte saam  geniet.

(Williene Uys is ‘n vryskut-verslaggewer en blogger vir Vaalweekblad)

Back to top button