Local newsNewsNews

Dié troeteldiergier groei teen slakkepas

VANDERBIJLPARK. - Toe Vaalweekblad onlangs ‘n oulike foto van Zinta Barnard (18) se troetelslak “Sloppy” gepubliseer het, het ons min geweet dat daar heelwat ander lesers met sulke buitengewone troeteldiertjies is.

Die koerant was skaars op straat of Jeanine Fouché (32), ook van Vanderbijlpark het trots laat weet dat sy sommer sewe troetelslakke het. Hulle name is Tjiff, Tjaff, Gary, Boomer, Pikachu, Ghoempie en Survivor.

Laasgenoemde het sy naam gekry na hy deur ‘n hond gebyt is. Jeanine het eers gedink sy “doppie is geklink”, maar Survivor se dop het self toegegroei en hy het heeltemal herstel.

Sy het haar eerste slak by een van die kleuters by die kleuterskool waar sy werk, gekry. “Ek hou hulle in ‘n groot plastiekhouer aan, met ‘n tafel bo-oor hulle om hul veilig te hou,” vertel Jeanine.

Die slakke het baie gesonde eetgewoontes en eet net groente en vrugte. Hulle hou veral van slaaiblare. “Hulle lê vreeslik baie eiers en dis die kleinste goedjies as hulle uitbroei,” vertel Jeanine.

Wat gemaak met al die babatjies? Sy het hulle uitgedeel aan mense wat ook slakke wou hê.

Dié slakke-passie is nie so ongewoon as wat baie mag dink nie, dit wil voorkom of daar heelwat trotse eienaars daar buite is. Die voordeel van so ‘n troeteldiertjie is natuurlik dat hy nooit vir jou kan weghardloop nie. Die nadeel is dat hulle soms in hul dop gekruip is en jy dalk lank gaan wag as jy hulle roep.

En as jy nie van die gladde (of glibberige) troeteldiertjies hou nie, kan jy soos Justin Rabie van Vanderbijlpark vir jou ‘n vinniger, harige troeteldiertjie aanskaf. Justin se Scarlet (‘n Birdeater Tarantula) is sy hart se punt.

Sy is reeds vyf en ‘n half jaar oud en sowat 22 cm lank. Wat ook al jou voorkeur is, ek vermoed die meeste mense gaan steeds hul honde en katte verkies.

Jeanine Fouché (32) ook van Vanderbijlpark, het trots laat weet dat sy sommer sewe troetelslakke het. Hierdie is Tjiff, haar eerste een.
Zinta Barnard van Vanderbijlpark se “Sloppy.”
Justin se Scarlet (‘n Birdeater Tarantula) is sy hart se punt.

You can read the full story on our App. Download it here.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button