NationalNewsBreaking News

OPDATERING: GEKKEDAG! Ingrypende planne kom om Vaalrivier in Emfuleni droog te lê

Kanaalstelsel sal einde maak aan besoedelde rivier

LET WEL: HIERDIE WAS ‘N BERIG OM GEKKEDAG (1 APRIL 2021) TE VIER. DIE VAALRIVIER GAAN NIE DROOGGELê WORD OF VERSKUIF WORD NIE. HY BLY NET HIER VIR ONS ALMAL OM IN DIE VAALDRIEHOEK TE GENIET! – Vaalweekbladspan.

 

Sien kaart van voorgestelde nuwe vloei van die Vaalrivier onder

VANDERBILPARK. – Die ernstige besoedeling van die Vaalrivier en die omvattende rioolnetwerkprobleme in die Vaaldriehoek gaan binne nege jaar opgelos wees as ‘n sindikaat se plan om die Vaalrivier tussen die Vaaldam en Parys te privatiseer, ‘n realiteit word.

Samesprekings tussen die regering, ‘n groep biljoenêrsakemanne wat ‘n deel van die Vaalrivier wil koop, en ‘n Kubaanse raadgewende onderneming wat ingenieurs en geoloë insluit, is glo reeds meer as twee jaar aan die gang om dié droom ‘n werklikheid te maak.

Hoewel die samesprekings tot dusver hoogs geheim was, het mnr. Roberto Garcia, uitvoerende bestuurshoof van die Kubaanse firma, Consultante Agua Residuales, gister dokumente aan Vaalweekblad en Ster uitgelek waarin die ambisieuse maar ontstellende plan vervat is.

“Dinge is besig om lelik skeef te loop. Van die ontwikkelaars wil die beplande kooptransaksie te vinnig deurforseer sonder om die groter gemeenskap en die omgewing in ag te neem. ‘n Behoorlike impakstudie is nog nie eers gedoen nie. Om dié rede het ek en my kollegas besluit om die media in te lig voordat onomkeerbare besluite geneem word,” sê Garcia.

Hy het gister aan Vaalweekblad verduidelik dat die besoedelingskade in die rivier tussen die Vaaldam en Parys onherstelbaar is. Die enigste oplossing is om die rivier direk na Parys te herlei om sodoende die hele besoedelde stuk tussen Deneysville en Parys, waar die rivier deur die Vaaldriehoek loop, uit te sny en droog te lê. Dit sal gedoen word deur ‘n netwerk van sementkanale te bou om die rivier se nuwe vloei te vestig op dieselfde manier wat die Vaalharts-besproeiingskema naby Kimberley sedert 1934 ontwikkel is en steeds met groot sukses bedryf word.

Die Vaalrivier sal dan in plaas van deur Vereeniging en Vanderbijlpark, in die vorm van ses hoofkanale direk vanaf die Vaaldam herlei word na Vrystaatse landelike gebiede soos Wolwehoek en die Weiveld-area tot in Parys. Dié grondgebied is reeds voorheen deur die voormalige Vrystaatse premier en huidige ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule, geoormerk vir die ontwikkeling van opkomende boere. Sien kaart van voorgestelde nuwe vloei van die Vaalrivier onderaan berig. ‘n Kanaalstelsel, opgedeel in honderde kleiner netwerke soos dié van die Vaalrivier by Vaalharts, sal sulke boere in staat stel om ekonomies-produktiewe kleinboerderye aan die gang te kry. Die kanale gaan egter nie almal vir boerdery en besproeiing gebruik word nie.

Twee kanale sal (met die ontwikkelaars as betaalde “custodians”) water verskaf aan die Vaaldriehoek se nywerhede. Nog twee sal deur die biljoenêrbeleggers aangewend word vir omvattende toerisme-ontwikkeling en watersport.

Dit sal op dieselfde manier as soortgelyke rykmanspeelplekke in Abu Dhabi ontwerp en bedryf word en sal na verwagting miljarde rand se toerisme-valuta per jaar inbring. Nog ‘n voordeel is dat die Vaalrivier se dae van besoedeling op ‘n einde gaan wees omdat die watergehalte in die kanale behoorlik gemonitor en beheer sal kan word.

Die gedeelte van die Suikerbos- en Kliprivier wat by Drie Riviere invloei, sal uitsluitlik vir rioolbestuur aangewend word en sal na die Sebokeng-rioolwerke herlei word. Die koste van opgradering en beveiliging van die pompstasies sal deur die beleggers self gedra word. Dit blyk egter dat die nadele van die herleide Vaalrivier dalk groter as die voordele gaan wees: Die Vaalrivier soos wat ons hom vandag ken, gaan ophou bestaan en net ‘n droë loop gaan oorbly.

Dit is beslis slegte nuus vir oewerbewoners wie se eiendomme tans miljoene rand werd is, aangesien hulle nie meer ‘n rivier op hul voorstoep gaan hê nie. Garcia sê die beleggers meen egter dat die drooglegging nuwe toerismedeure vir die Vaaldriehoek gaan open. Dis ‘n bekende feit dat daar ‘n prehistoriese woud op die bodem van die huidige Vaalrivier is. Wanneer die rivier drooggelê is, sal dit ‘n toestroming van toerisme meebring en universiteite wêreldwyd sal gereeld studente na die Vaaldriehoek bring om dit te ondersoek. Gastehuise en hotelle in die omgewing sal dus steeds groot geld hieruit kan maak.

Daar is ook verskeie goedversteekte grotte in die walle van die Vaalrivier, so 5 km buite Vanderbijlpark, wat tans net per boot besoek kan word. Dié grotte, wat kosbare tekeninge uit die oertyd bevat, sal beslis ook derduisende toeriste lok. So ook die historiese sluiswal by die Barrage, wat uit 1923 dateer en na die drooglegging onbenut gaan staan.

Die ou Vaalrivierbed is volgens Garcia se verslag plek-plek baie ryk aan minerale en voedingstowwe, wat dit na twee jaar se uitdroging baie geskik sal maak vir selfonderhoudende laekoste groenteboerdery.

“Die ryk bodem sal vir ten minste 10 jaar genoegsame voeding kan lewer sonder verdere bemesting,” sê Garcia. Wat hom egter bekommer, is dat die Vaalrivier se vislewe vir alle praktiesse doeleindes gaan verdwyn. Een van die kanale sal steeds vislewe bevat waar hengelaars vir etlike kilometer teen ‘n koste sal kan visvang, maar die waterlewe sal nie meer natuurlik daarin kan aanteel nie. Visse en ander waterdiere soos krappe sal op die beleggers se waterplase geteel en volgens behoefte in die kanaal vrygelaat word.

Garcia sê hy en sy kollegas beskou dié inmenging met die natuur as ‘n onding wat meer navorsing vereis. As natuurliefhebber is hy ook besorgd oor die verdwyning van die moerasgebiede (wetlands) in die Vaaldriehoek, waar die huidige voëllewe onvermydelik weens die drooglegging sal uitsterf.

“Die ontwikkelaars wil alles voltooi hê teen 2030 maar dit gaan nie werk nie. Nege jaar is te min tyd. Hierdie projek gaan minstens 25 jaar neem om suksesvol te voltooi. Ons maatskappy sal dit nooit betyds klaarkry nie,” is sy bekommernis.

Mev. Maureen Stewart van die omgewingsdrukgroep SAVE, sê die drooglegging gaan beslis ‘n negatiewe impak op oewerbewoners se eiendomspryse hê, veral in die sogenaamde “Millionaires Bend” naby Stokkiesdraai, maar as dit minder besoedeling tot gevolg gaan hê, is dit ‘n klein prys om te betaal. “Wees net gewaarsku. SAVE gaan steeds met ons naels en tande baklei vir die watergehalte in die kanale,” sê sy.

Die eienaars van Stonehaven-on-Vaal, Rex en Rosemary Anderson, sê hulle hoor lankal gerugte dat die Vaalrivier in Vereeniging en Vanderbijlpark drooggelê gaan word, maar hulle is voorbereid op enige moontlikheid. “Gelukkig is daar 6 kruidfonteine soos Wonderfontein digby Stonehaven in die Vaalrivier, wat tans onder water is. As die bodem drooggelê word, sal daardie fonteine wat diep uit die aarde kom, steeds onkeerbaar water opstoot. Die rivier voor Stonehaven sal dus nooit heeltemal drooggelê kan word nie. Geoloë het reeds ondersoeke gedoen en ‘n plan vir ons opgetrek waarvolgens ons daardie water in ‘n groot natuurlike swembad van 500 meter voor en stroom-af van Stonehaven sal kan opdam. Besoekers sal soos in die ou dae in die helende, skoon kruidwater kan kom sit of swem. Ons groot vlotte sal ook steeds daarin kan vaar, hoewel dan net in sirkels in plaas van stroom-af. Vir besoekers sal die watervista voor Stonehaven dus steeds dieselfde lyk,” sê Rosemary.

 Nog foto’s en ‘n kaart van die voorgestelde nuwe vloei van die Vaalrivier onder:

Die Kubaanse raadgewers se kaart wat aan Vaalweekblad en Ster uitgelek is. Die beplande nuwe vloei van die Vaalrivier-kanale word in rooi aangedui (Vanaf die Vaaldam regs, na Parys links). Die huidige vloei is hoër op in blou.
Mnr. Roberto Garcia bestudeer sy kaartwerk van die omgewing. Die Vaalrivier se “Millionnaires Bend” in Vanderbijlpark en die Lethabo-kragstasie is in die agtergrond.

 

Indien die plan deurgevoer word, sal die Vaalrivier direk vanaf die Vaaldam in sementkanale soos dié een deur die Vrystaat na Parys herlei word, en glad nie meer deur Vereeniging of Vanderbijlpark vloei nie. (Die kanaal op die foto vorm deel van die Vaalharts-besproeiingskema naby Kimberley, waar die Vaalrivier sedert 1934 op soortgelyke wyse herlei word). *********************************************************************************************

Back to top button