Local newsNewsNewsUpdate

[OPDATERING] – Hof besluit Donderdag oor borg vir Amy’Leigh se ontvoerders

Hof besluit Donderdag oor borg vir Amy'Leigh se ontvoerders

VOLLEDIGE KOERANTBERIG VAN VAALWEEKBLAD 11 SEPTEMBER 2019 Voorblad en Bls 3

Jannie du Plessis
VANDERBIJLPARK. – Klein Amy’Leigh de Jager (6) is verlede Maandag na haar ontvoering op die Rosashof-kleinhoewes net buite die dorp deur haar ontvoerders aangehou. Nou is die bordjies verhang en word haar ontvoerders aangehou.
Amy’Leigh se ontvoeringsdrama het die hele land aangegryp. Om sake te vererger, is een van die ontvoerders welbekend aan die gesin en ‘n onderwyseres by die LS Kollegepark. Sy is intussen geskors.
Amy’Leigh is voor die skoolhek uit haar ma se arms gegryp en ontvoer.
Tharina Human (27) wat glo die meesterbrein agter die ontvoering was, asook Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50) is reeds verlede week in hegtenis geneem en het Maandagoggend, 9 September in ’n volgepakte landdroshof in die dorp verskyn.
Die hofgange het gewemel van mense en media wat die hofsaak wou bywoon. Die hof self was stampvol en stoele moes ingedra word.
Die drie beskuldigdes sal tot Donderdag, 19 September in aanhouding bly wanneer formele borgaansoeke voor landdros Hussein Khota ingedien word.
Voor die saak voorgekom het, is die media versoek om buite te wag aangesien landdros Khota eers ander sake wou uitstel of afhandel.
Hy moes ook die besluit neem of die media toegelaat sal word om tydens die hofsaak foto’s en video’s te neem. Nadat al die joernaliste aansoekvorms moes invul, het Willem de Klerk (Netwerk 24 se prokureur) met die media ooreengekom dat hy namens al die mediahuise met die staat en die beskuldigdes se prokureurs sal onderhandel oor die toegang tot die hof en wanneer en wat geneem kan word.
Die medialede, waarvan daar sowat dertig joernaliste van verskeie groot mediahuise soos Netwerk 24, Huisgenoot, Eye Witness News en vele meer was, is net voor 12:00 die hofsaal toegelaat.
Uiteindelik is ooreengekom dat daar net voor en na afloop van die hofverskyning foto’s geneem mag word.
Die Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, wat ook die hofsaak bygewoon het, het opgestaan en Amy’Leigh se ouers gegroet en ‘n tyd lank met hul gesels voor die hofverrigtinge in aanvang geneem het.
Pa Wynand en ma Angeline het heel voor gesit. Angeline het teen haar man se skouer gehuil toe haar eens goeie vriendin (Tharina) verby haar stap. Volgens gerugte het hulle vriendskap sowat twee maande gelede versuur.
Human het emosieloos in die beskuldigdebank voor haar uitgestaar.
* Riaan Botha (66), pa van die beskuldigde Tharina, het huilend buite die hof aan die media gesê: “Ek vra uit die diepte van my hart om verskoning.
“Dit wat gebeur het was buite ons beheer, maar ek vra vir julle om verskoning.
Die groot Geneesheer sal die wonde toemaak.” Terwyl hy snikkend gepraat het, het Christo de Jager, Amy’Leigh se oupa aan vaderskant, nader gestap en hom omhels en ook in trane uitgebars. Christo het saggies vir hom gesê: “Sterkte.”
Jaco van Heerden het namens Human verskyn en Stoffel Venter namens Nel. Van Zyl word deur Lungelo Chirwa verteenwoordig, terwyl Luanda Nqcobo namens die staat as aanklaer optree.

VIDEO: JANNIE DU PLESSIS – VAALWEEKBLAD

FOTO GALLERY: JANNIE DU PLESSIS & CHRISTIAAN CLOETE

Check Also
Close
Back to top button