AmusingLocal newsNewsOpinionsUpdate

Tolhekplan gekanselleer weens publiek se slim vermydingsplanne

Publiek dreig om beplande tolhekke te vermy en alternatiewe roetes te vind

 

 

Gautrans se plan om tolhekke op die Barrage-pad tussen Vereeniging en Vanderbijlpark op te rig, is vanmiddag summier gekanselleer nadat dié staatsdepartement besef het Vaaldriehoekse motoriste is veels te kreatief om hulle deur ‘n tolhek te laat stuit.

Baie Facebook-lesers wat vanoggend se berig “Tolhek kom spoedig tussen Vging en Vbijl” gelees het, het alternatiewe uitgedink hoe hulle sulke tolhekke gaan “systap”.

“Dan ry ons maar net die Pan-pad,” het Michele Bester Lammertyn laat weet. Vele ander motoriste het beaam dat daar ander bekende en geheime ompaadjies tussen die twee dorpe is. Die meeste het gesê dat hulle liewer die pad wat parallel aan die Barrage-pad langs die Sharpeville-pan verbyloop,  sal gebruik om tolgeld te ontduik.

Sommige lesers het onderneem om te begin fiets-trap en nóg ‘n paar het laat weet dat hulle per boot op die Vaalrivier tussen Vereeniging en Vanderbijlpark sal reis om tolgeld vry te spring. (Entrepreneurs, noudat ons daaraan dink – hier lê dalk in die toekoms ‘n goudmyn en wag vir iemand in die vorm van ‘n water-taxi!).

Vaalweekblad verneem die kansellasie van die tolhekplan het niks daarmee te doen dat dit vandag Gekkedag is nie….

 

  • (Vaalweekblad bedank graag Gautrans se Kommunikasie-afdeling wat ingestem het tot die gekskeerdery, sowel as vir Klippies Kritzinger en Stefan Olivier van die Sakekamer en die plaaslike radiostasies wat saamgespeel het. Nog ‘n dankie gaan aan Nicky J. van Vuuren van Chilli PicNic vir die kunstenaarsvoorstelling van die “beplande tolhek”.  Meeste van almal bedank ons ons lesers vir hul “likes” en “shares”, en die kostelikhede wat hulle in hul kommentaar kwytgeraak het. Ons redaksiespan het jul bekkigheid baie geniet!)

 

 

 

 

 

 

 

Back to top button