AmusingLifestyleLocal newsNews

Amishe meisies kom soek man in die Vaaldriehoek

Veertig vriendelike maagde het Vaal se hubare manne op hol!

Vaalweekblad se lesers is heeltemal te slim vir ons. Baie van julle het sommer dadelik gesien dat die berig oor die daggaplase ‘n klomp TWAK was, maar dit het ons nogtans heelwat pret gegee om julle te probeer vang. Vergewe ons! Maar wie onthou nog 2 jaar gelede se storie oor die Amishe meisies wat kom man soek het in die Vaal? Ons het toe heelwat van julle uitgevang en 2 nasionale koerante en selfs ‘n internasionale koerant het ons destyds gebel om meer inligting oor die meisies se besoek te kry!

Amishe meisies kom soek man in die Vaal

Retha Fitchat
VEREENIGING. – ‘n Groep van 40 Amishe meisies gaan hulle hierdie maand in Suid-Afrika tuismaak om vir ‘n jaar lank as verpleegsters, kleremaaksters, kelnerinne, boekhoudsters en selfs private onderwyseresse te kom werk. Hulle draai geen doekies om oor die rede vir hul jaarlange besoek nie. Hulle kom soek man: goeie, sterk, Christen-boerseuns om mee te trou.
Die Ou Orde Amish is ‘n groep afstammelinge van Duitse, Hollandse en Switserse emigrante wat in die vroeë 1700’s na Amerika en Kanada verhuis het. Hulle praat steeds ‘n Duits/Hollandse dialek en is bekend vir hul tradisionele kleredrag en dat hulle geen moderne hulpmiddels soos motors, selfone en rekenaars gebruik nie.
Die eerste 12 meisies het Maandagaand uit Pennsylvania, Amerika, op die Oliver Tambo-lughawe geland, met die Vaaldriehoek as bestemming. Dié groep het spesifiek die Vaaldriehoek gekies nadat twee Amishe kerkkonsultante verlede jaar die gebied besoek en gevind het dat hier baie ongetroude Christenmans tussen die ouderdom van 21 en 45 jaar is wat goeie troumateriaal sal uitmaak. Die meisies is almal maagde en tussen 21 en 27 jaar oud.
‘n Bussie, wat deur die Vanderbijlpark Sakekamer beskikbaar gestel is, het gereed gestaan om hulle na die Vaaldriehoek te vervoer. Vaalweekblad was ook op die lughawe om die meisies, wat geensins moeg of gespanne na die lang vlug gelyk het nie, te verwelkom.
“Ons sien geweldig uit na die avontuur,” het Hannah Hochstetler (23), een van die meisies, aan Vaalweekblad gesê. “Hubare jong mans in ons eie gemeenskap van sowat 200 000 mense is min en ‘n ondertrouery is buitendien nie raadsaam nie. Ons koms na Suid-Afrika dra dus die goedkeuring van ons ouers en ouderlinge weg. Ons moet nuwe bloed in ons groep inkry. Sterk Afrikanermans is ideaal daarvoor. Dit moet gesonde mans wees wat hard kan werk en groot gesinne sal kan onderhou want ons wil almal baie kinders hê,” het sy verduidelik.
Nog ‘n meisie, Maria Hershberger (21), sê hulle het die afgelope ses maande ‘n kursus in Afrikaans voltooi en kan die taal reeds goed praat omdat dit naby verwant is aan Amish. Almal praat ook vlot Engels. Hulle moes die afgelope jaar leer om tipiese Suid-Afrikaanse boerelekkernye soos melktert, biltong, koeksisters en styywe mieliepap te maak want hulle het verneem “die pad na ‘n Afrikanerman se hart loop deur sy maag”. Hulle ken ook reeds die name en posisies van al die Springbok-rugbyspelers want hulle het gehoor dié sport is “hewig groot” onder plaaslike mans.
Indien die meisies hul lewensmaats hier ontmoet en trou, sal die mans saam met hulle na Pennsylvania moet terugkeer as immigrante, maar daar is ook ‘n moontlikheid dat van die meisies hier sal agterbly en nuwe Amish-groepe in Suid-Afrika sal vestig.
Volgens mev. Hester Davis, voorsitter van die Vanderbijlpark Sakekamer, het die kamer besluit om die Amish-projek te ondersteun omdat die meisies harde werkers is en ‘n aanwins vir die gebied sal wees. “Hopelik lok hulle ook ‘n klompie nuuskierige toeriste na die Vaaldriehoekse hotelle en restaurante waar hulle gaan werk,” sê sy.
Die meisies het hulle gister by verskillende gastehuise in die Vaaldriehoek tuisgemaak en uitgerus voordat hulle vandag, 1 April, by hul onderskeie werksplekke moes inval.

Back to top button