Local newsNewsPhoto GalleriesSchoolSport

Valia deur na eindstryd

Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Transvalia is deur na die eindstryd van die Virsekerbeker vir grootskole, nadat hy Potchefstoom Gimnasium Saterdag op sy tuisveld oortuigend geklop het.

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Wees gewaarsku! Doen dit in die eindstryd en krokodiltrane gaan rol.
Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Transvalia is deur na die eindstryd van die Virsekerbeker vir grootskole, nadat hy Saterdag op sy tuisveld vir Potchefstoom Gimnasium oortuigend met 39-14 geklop het.
Hoewel Transvalia die uitslag gekry het wat hy verdien en voor gehoop het, sal hy eerskomende Saterdag in Johannesburg teen Helpmekaar Kollege nie ‘n herhaling van sy eerste 20 minute se spel teem Pocth Gim kan beskostig nie.
Maar dit is ’n bedekte seën n vir dié talentvolle span. Eerder ’n geploeter in die halfeindronde as in die eindstryd.
Valia was Saterdag sy eie grootste vyand en het met swak dissipline, bottervingers en algemene swak spel toegelaat dat ’n begeesterde Potch Gimmies veel beter gelyk het as wat hy werklik is.
Die skeidsregter het vroeg in die eerste helfte twee keer hand in die sak gesteek. Met twee agterspelers (Zander van der Walt en Zian de Jager) langs die kantlyn, was Valia se aanvalsplanne dun gesaai, maar die tuisspan het karakter getoon en deurgedruk.
Valia het vroeg in die eerste helfte op die Potchefstromers se doellyn geboer en twee keer die bal afgestorm wat met ‘n bietjie meer geluk in vyfpunters omskep kon word.
“Ek dink die senuwees het ’n groot rol gespeel. Dit was vir die matrieks hulle laaste wedstryd op hulle skoolveld. Ons is gereed vir Saterdag,” sê Jaco Kok, afrigter van Transvalia se eerste rugbyspan.
Valia se seweflank, Elrich Louw, het Saterdag Valia se kruitvat aangesteek toe hy met brute krag vir ’n pragdrie oor die doellyn gebars het. Hoewel Valia rustyd slegs 12-0 voorgeloop het, het die gevaarligte 10 minute voor rustyd reeds vir die besoekers begin flikker. Die tuisspan het die vaste fasette oorheers en veral in die vaste skrums beïndruk, iets wat in die eindstryd deurslaggewend kan wees.
PUNTEMAKERS:
Transvalia 39 (12): Drieë: Elrich Louw, Ian Herbst, Xander van der Walt, Mpho Ntsane (2), Reinard Jordaan. Doelskoppe: Zian de Jager (3), Strafdoel: De Jager.
*Wat Saterdag se eindstryd betref is Helpmekaar tans vyfde op die skoleranglys en Transvalia 15e, maar een ding is seker, dat dit dwaas sal wees vir die Johannesburgers om nou al hulle naam op die trofee te wil laat graveer.
Benewens sy vlagskip het Valia se o.15 en o.16’s met seges oor Rob Ferreira (38-3) en Ligbron (63-10) hulle plek in die eindstryd bespreek.
Die bepalings vir Saterdag se Virsekerbeker-eindstryde vir grootskole is:
09:00: o.14: Helpmekaar teen Ligbron; 10:10: o.15: Helpmekaar teen Transvalia; 11:20: o.16: Helpmekaar teen Transvalia. 12:45: Helpmekaar teen Transvalia.

Back to top button