CommunityLifestyleLocal newsNews

‘Refengkgotso se mense verdrink in riool!

Huise word letterlik omring deur stinkende rioolwater waar kinders, onbewus van die gesondheidsgevaar, sit en speel.

Retha Fitchat
DENEYSVILLE. – “Mense van Refengkgotso, die township langs Deneysville, is besig om in rioolwater te verdrink. Dit gaan nou reeds etlike maande so. Die situasie is onmenswaardig en mag nie langer geduld word nie.”

Só sê mnr. Peet Schabort, ‘n inwoner van Deneysville en kampvegter vir die natuur sowel as vir mede-inwoners van die dorp en omstreke.

Daar is nou letterlik strome water wat langs die huise van Refengkgotso se inwoners verbyloop of tussen die huise opdam.

“Die rioolwater rondom die huise gaan uiteindelik deur die fondasies en mure opgeneem word. Dit is regtig onmenslik, om nie een te praat van die gesondheidsgevaar vir klein kindertjies wat van die damme riool af weggehou moet word nie,” sê Schabort.

“Hierdie situasie is uiters ernstig en gaan reeds die afgelope vyf maande voort weens ‘n pompstasie wat buite werking is. Sommige huise staan letterlik in die riool,” sê hy.

Vaalweekblad het in die verlede al herhaaldelik berig oor die skokkende agteruitgang van die rioolstelsel in Deneysville en Refengkgotso en dit was ook reeds by meer as een geleentheid die onderwerp van bespreking op die aktualiteitsprogram Carte Blanche op M-Net.

Vaalweekblad het die foto’s en video’s wat vandeesweek deur Schabort aan die media uitgereik is, aan die Metsimaholo-munisipaliteit gestuur met ‘n versoek dat dringende aandag aan dié potensiële gesondheidsramp gegee moet word.

  • Opvolg: Derek Watts, ‘n aanbieder van die TV-aktualiteitsprogram Carte Blache, het Deneysville en Refengkgotso verlede week besoek nadat hierdie berig in Vaalweekblad verskyn het. ‘n Insetsel oor die skokkende toestand van die water- en rioolstelsel is Sondagaand 2 Julie deur Carte Blanche uitgesaai.

 

Back to top button