Local newsNewsNews

Eerste kunstefees vir neurodiverse sterretjies suksesvol

Die Akademie vir Dramakuns (ADK) en Piece of Mind Academy het in 'n toetslopie die eerste ALT Kunstefees in Vanderbijlpark aangebied. Lees meer...

VANDERBIJLPARK – Kunstefeeste en deelname daaraan is vir die meeste leerders ‘n gegewe. Dit is nie so maklik vir neurodiverse kinders nie.

Dit sluit kinders met onder andere Aspergerssindroom en die wat op die outistiese spektrum is in.

Leandri Hallat, een van die direkteure van Piece of Mind Academy vir leerders met outisme in Vaalpark, het die direkteur van die Akademie vir Dramakuns (ADK), Franciska van der Merwe, genader oor die moontlikheid van ‘n alternatiewe kunstefees.

Franciska, wat reeds dramaklasse bied vir verskeie van Piece of Mind se leerders, het dadelik ingestem. “Dit was die eerste keer wat so iets in die Vaaldriehoek aangebied is.

“Hierdie jaar het sewe van ons leerders deelgeneem en volgende jaar sal ons graag ander sentrums en skole vir kinders met spesiale behoeftes wil insluit,” het Leandri gesê.

Die spesiale kunstefees het by Kunstedraai in Vanderbijlpark plaasgevind. Die leerders het dit veral geniet om op die verhoog hul items te kon lewer, met hul trotse ouers in die gehoor.

Daar is gedramatiseerde poësie opgevoer en stilstaande poësie, voorbereide en onvoorbereide lees en almal het geskitter.

Die jongste deelnemer was ses jaar en die oudste 17. Franciska was die beoordelaar en het gesorg dat elkeen na die tyd ‘n sertifikaat van deelname kry asook medaljes.

“Hierdie was net ‘n toetslopie, maar ons sal dit weer doen. Dit het die kinders se selfvertroue  ‘n ongelooflike hupstoot gegee. Hulle weet nou, hulle kan ook. Ek wens ek kon laat elkeen van ons leerders dramaklasse neem,” sê Leandri.

Sy het haar dank teenoor Franciska uitgespreek vir haar volgehoue ondersteuning en samewerking met Piece of Mind.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button