News

‘n Laaste groet aan voormalige Mej Vanderbijl

“Maak nie saak hoe moeilik haar omstandighede soms was nie, sy het nooit ophou baklei om vir ons 'n goeie lewe te gee en goeie werk-etiek te leer nie," sê haar dogter.

 

VANDERBIJLPARK. – Een van die glinstermense uit die Vaaldriehoek se vervloë jare, mev. Dalene van Giesbergen (74), is op 27 September oorlede nadat haar gesondheid skielik versleg het.
Wyle mev. Van Giesbergen was in die 1960’s ‘n bekende model wat glans aan menige loopplank verleen het. Sy is destyds in die media as “beeldskoon” bestempel. As Dalene Joubert (haar nooiensvan) het sy verskeie titels ingepalm, onder andere dié van Mej. Vaalmannekyn en Mej. Vanderbijlpark.

Dalene se moeder, mev. Marie Joubert, was destyds Vaalweekblad se senior boekhoudster – ‘n pos wat sy dekades lank by die koerant beklee het.

Dalene is op 8 September 1950 in Leeudoringstad gebore en het in 1965 saam met haar gesin na die Vaaldriehoek verhuis, waar sy aan die Hoërskool Transvalia skoolgegaan het. Na skool het sy in die administratiewe afdelings van banke en ander plaaslike ondernemings gewerk.
“Sy was ‘n gelowige vrou wat naby aan die Here gelewe het. Sy was lief vir haar kinders, ‘n goeie ma, perfeksionisties en baie hardwerkend,” sê haar dogter, Liesje.

“Maak nie saak hoe moeilik haar omstandighede soms was nie, sy het nooit ophou baklei om vir ons ‘n goeie lewe te gee en goeie werk-etiek te leer nie.” Dalene was uitstekend in naaldwerk, brei en hekel – ‘n liefde wat sy ook aan haar twee dogters oorgedra het.

Sy is in 2004 met kanker gediagnoseer en het die siekte na ‘n dapper stryd oorwin. Sy moes daarna ook ‘n operasie ondergaan weens ‘n bloedklont in die brein, en het met haar doelgerigte aard ook heeltemal daarvan herstel. Haar gesondheid het egter die laaste tyd vinnig verswak en sy is op 22 September in Cormed-hospitaal opgeneem. Sy het vyf dae later tuis beswyk.

Wyle Dalene se gedenkdiens is Maandag by die Palms-aftreeoord gehou, waarna sy in die Nanescol Private Begraafplaas ter ruste gelê is. Sy word oorleef deur haar dogters Liesje en Vanessa, seun Peter, skoonseun David, kleinseuns Xander en Daniel, haar broers Frans en Tinkie, en haar skoonsuster Annatjie, wat haar ook baie bygestaan het.

‘n Onlangse foto van mev. Dalene van Giesbergen.
Dalene (Joubert) van Giesbergen in die 1960’s toe sy as Mej. Vanderbijlpark gekroon is.
Dalene (Joubert) van Giesbergen in haar jong dae as beeldskone model.
‘n Paar van wyle mev. Van Giesbergen se naasbestaandes: Xander, Liesje, Vanessa, David en Peter.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button