NewsSport

Valie red stiefpa met nieroorplanting

Nie alle superhelde dra mantels nie

SASOLBURG – Met die eerste oogopslag sal die 42-jarige Nico Roux soos enige Vaaldriehoeker voorkom.

Maar dit is misleidend. Baie misleidend. Hy is alles behalwe gewoon. In sy borskas klop daar ‘n groot hart.

Sy onbaatsugtigheid ken geen perke nie. Vroeër vanjaar op 3 Oktober is dit weer onderstreep toe sy gesin die 10de jaar herdenk het sedert Nico een van sy niere aan sy stiefpa geskenk het.

Die term stiefpa word slegs gebruik om feitlik korrek te wees, aangesien Nico hom as sy eie pa sien.

“Hy is in my lewe sedert ek drie jaar oud is. Dit was nie ‘n maklike besluit nie, maar een wat ek bly is ek het gemaak.

Dit het die gehalte van lewe vir my ma-hulle baie verbeter,” vertel Nico vanuit sy kantoor.

Hy is nou meer as sewe jaar die bemarker van die Hoërskool Sasolburg. Die mantel as sporthoof het onlangs ook op hom geval, maar hy is nie iemand wat wegskram van ‘n nuwe uitdaging nie.

Sy stiefpa Willie Coetzee wat vanjaar sy 70ste lewensjaar vier het destyds ‘n nier weens Lupus verloor en moes drie tot vier keer ‘n dag dialise kry.

“My seun Tyron wat op daardie stadium ses jaar oud was, het sy oupa gehelp om die dialisesakke te ruil. My ouers kon nooit weggaan met vakansie nie.

Willie Coetzee

Hy was bedlêend en vandag bedryf hy sy eie besigheid,” vertel Nico. Volgens Nico is daar na ‘n jaar se toetse en gewik en weeg besluit dat hy ‘n geskikte skenker is.

“Daar is baie bloedtoetse, skanderings en sonars gedoen. Dit het omtrent ‘n jaar geneem,” vertel hy. Voornemende orgaanskenkers ondergaan ook berading om hulle voor te berei vir die operasie en om te bepaal of hulle sielkundig die proses sal kan ‘oorleef.’

“Die groot ding is die skenker se lewenstandaard mag nie swakker wees as voor die skenking nie. Ek is gelukkig baie gesond en was seker vyf jaar laas by my huisdokter.

Ek dink goeie gene help. Ek is baie gelukkig. Ek gebruik geen medikasie na die skenking nie,” sê hy.

Hoewel hy nie een dag oor sy besluit spyt is nie, is hy soms bekommerd oor wat as… wat as sy eie seun eendag miskien ‘n nier mag nodig kry. “Dit is maar iets wat my altyd sal bekommer.”

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za More »
Back to top button