Local newsNews

Motorfietsryer erg beseer toe bakkie oor hom ry

Oogetuies van die ongeluk, of motoriste wat betrokke was, word versoek om Christine te kontak by 079 246 4223

 

VANDERBIJLPARK. – Baie vrae hang nog in die lug nadat ‘n 58-jarige motorfietsryer, mnr. Kobus Maartens, op 30 Augustus ernstig in ‘n ongeluk in Ravelstraat beseer is.
“Ons weet nie presies wat gebeur het nie. My man is ‘n uiters verantwoordelike bestuurder. Ons sal graag met ooggetuies of motoriste wat in die voorval betrokke was, wil praat,” sê Kobus se vrou, Christine.

“Ons was die aand tussen 21:00 en 22:00 op pad na ons huis in Lasiandra-hoewes nadat ons saam met vriende gekuier het. Ek het ons voertuig bestuur en Kobus het voor my op sy Hayabusa-motorfiets gery. Naby Rafters moes ek by die stopstraat vir aankomende verkeer wag en ek het Kobus uit die oog verloor. Reg voor Kompas-gemeente, skaars 600 meter van ons huis af, het ek ‘n swart voorwerp in die pad sien lê en met skok besef dit was Kobus. Sy motorfiets het sowat 10 meter van hom af aan die linkerkant van die pad gelê,” sê sy.

Vier voertuie, ‘n Mazda 323, ‘n wit bakkie, ‘n BMW en ‘n roomkleurige Ford Eco was in die omgewing toe die voorval plaasgevind het.
“’n Wit bakkie, vermoedelik ‘n Hyundai, het van Rossi’s Sports Bar se kant af gekom en bo-oor my man gejaag terwyl hy in die pad gelê het,” sê Christine.

Kobus is met verskeie oop frakture in Mediclinic Emfuleni opgeneem. Albei sy enkels is gebreek, albei knieë vergruis, en vier van sy ribbes aan die voorkant en vyf aan sy rugkant is gebreek. ‘n Noodoperasie is die volgende oggend uitgevoer op sy linkerbeen, wat op verskeie plekke gebreek was.

Kobus, wat die afgelope byna 40 jaar by Cape Gate werk, het nou reeds drie operasies ondergaan en nóg lê voor om sy ander breuke te herstel. Hy word tans in Cormed-hospitaal behandel. Hul mediese fonds is reeds uitgeput en ‘n lang, duur behandelingspad lê nog voor. Dit is nog onseker wanneer Kobus sal kan teruggaan werk toe.
Oogetuies van die ongeluk, of die bestuurder van die bakkie wat oor Kobus gery het, word versoek om Christine te kontak by 079 246 4223. “As die persoon ‘n gewete het, behoort hy dit te doen,” sê sy.
Mense wat Kobus met ‘n donasie vir sy mediese uitgawes wil ondersteun, kan ‘n inbetaling doen aan JJ Maartens, Capitec, Spaarrekening: 1185604322, Takkode: 470010.

Kobus Maartens waar hy tans aansterk in Cormed-hospitaal.
Kobus Maartens voor die ongeluk by sy Hayabusa-motorfiets.

You can read the full story on our App. Download it here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button