Local newsNewsNews

Ek sê maar net… ‘n Egte boerseun in murg en been

Glimlag 'n slag. RUBRIEK - Daar loop ek my toe vas in 'n nasaat van een van die groot Voortrekkers en hierdie jongeheer kan lekker stories vertel.

RUBRIEK – Wag ons in die voorportaal. Dis nou die uwe, twee graad 2’s en twee graad 3’s. Die graad 1’s is op pad.

Die jongman aan my linkerkant staan sy skoene vol. Lang, sterk boerseun, som ek hom op. Ons bekyk die trofees en bekers in die kas. Daar is baie.

“Ek wonder of my pa een van hulle gekry het?” seg hy uit die bloute.

“Jou pa was ook hier op skool?” vra ek. “My ouma ook,” kry ek antwoord terwyl ons die trappe klim na die personeelkamer.

“Dan bly jul familie al baie lank in Sasolburg,” maak ek die afleiding.

“In die eerste huis. Die ou plaashuis,” beduie hy. Ek hark hom sommer eerste nader om mee te gesels.

Die knaap val dadelik weg en vertel my ek sal nooit raai nie, maar die jaar was hulle nou al ‘n slag see toe en twee keer in die wildtuin.

Ek hoor van die luiperd wat hulle gesien het, die sewe renosters, die baie olifante, die eende wat hy gevoer het en die skilpad wat hy afgeneem het.

Die man hou van stories vertel. Ek kom gou agter sy oupa is sy held. “Nou die dag was ons ure in Makro oor Ouma vir ons so lang lys goed gegee het om te koop. Oupa sê ons kon dit binne ‘n uur by Checkers gekry het.”

“My oupa se oupa se oupa was Andries Hendrik Potgieter. Hy was ‘n groot voor… ehh voorsoldaat of so iets,” word ek meegedeel.

“Hy was ‘n bekende Voortrekkerleier. ‘n Goeie een. Ons het van hom in geskiedenis op skool geleer,” deel ek my kennis.

Ek sien my aandele styg sommer met rasse skrede.

“Nou wat is jou naam?” vra ek. “Gareth Potgieter. Dink tannie ook ek is baie lank vir graad 3?”

Ek stem saam. Onthou skielik my missie en die vyf ander woelwaters wat vir my wag. “Ek moet jul almal dieselfde vraag vra, maar die Tannie kan nou nie aan een dink nie,” bieg ek.

Gareth se Voortrekkerleierbloed kom na vore. “Vra ons iets soos wat is die lekkerste ding wat jy die jaar al gedoen het,” kry ek raad.

“Briljant,” seg ek. “Dis wat ek gaan vra.”

“En daar moet ek tannie nou help,” glimlag hy. Ek neem foto’s. Hy staan op toe ek die kamera laat sak.

Regop. Vriendelik. ‘n Regte boerseun. Sy groot-groot-groot oupagrootjie Andries Hendrik Potgieter sou trots wees op hom.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button