Local newsNewsNews

Op ‘n missie na Ierland en Engeland

Van lootjieverkope tot haar eie kunswerke verkoop, Anzell werk hard om haar droom te verwesenlik

VANDERBIJLPARK – Dit het vir haar gelyk na ‘n onbereikbare droom. ‘n Droom wat onverwags in haar skoot beland het, maar steeds onbereikbaar.

Totdat haar oom sy voet neergesit het en besluit het om ‘n plan te maak. Verskeie planne om presies te wees. Anzell Baird, ‘n graad 10-leerder aan die Hoërskool Driehoek, het ‘n ruk terug onverwags ‘n brief by die skool ontvang.

Dit was ‘n uitnodiging om deel te wees van ‘n Academic Achievers Toer volgende jaar. Die keuse was na Dubai, Ierland en Engeland, of die VSA. Die probleem was die kostes.

Altesaam R77 000 en dit sluit nie al haar etes en sakgeld in nie. Haar ouers het eers gesê nee, nie net oor die onkostes nie, maar ook omdat sy nog so jonk is.

Haar ma se broer, Leon Beyleveld het egter besluit Anzell kan nie die eenmaal in ‘n leeftyd geleentheid misloop nie.

Daar is ‘n Back a Buddy-fonds begin, en ‘n groot lootjiekompetisie is geloods met nog vele projekte wat beplan word, onder andere ‘n Noteraai 7 Desember.

Anzell self dra haar deel by deur van haar potlood en houtskool skilderye te verkoop. Sy het ‘n natuurlike aanleg vir teken wat sy van kleins af al vir ure oefen en veral haar gesigsketse trek aandag.

Haar kunswerke is te sien op facebook op die blad Anzell Artist. Haar ma, Lynette vertel hulle kon al genoeg geld bymekaarmaak om die deposito einde Augustus te betaal.

Die res van die geld moet in paaiemente van R10 500 oorbetaal word tot einde Julie 2025. Die toer vind volgende jaar September/Oktober plaas.

“Ek is skrikkerig om die avontuur alleen aan te pak, maar is baie opgewonde om Dublin toe te kan gaan, met ‘n boot na London te reis en universiteite soos Cambridge en Oxford te kan besoek,” vertel Anzell.

Anzell het nog altyd in akademie uitgeblink en is onder die Top 20 van haar graad. “Ek kan nog nie besluit wat ek na skool wil doen nie. Miskien medies of dalk LLB.

“Ek hou eintlik van alles en kan op die stadium nie op een vakrigting besluit nie,” vertel sy op haar stil manier. Naas akademie, sing sy ook in die skoolkoor en speel graag hokkie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button