News

Vermeende reeksmoordenaar wil nou skuldig pleit

Sy wil blykbaar skuldig pleit.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

PRETORIA – Die verhoor van ‘n vermeende reeksmoordenaar van De Deur het ‘n verrassende wending geneem toe die beskuldigde se regsverteenwoordiger vroeër vandeesmaand aangedui het dat sy nou skuldig wil pleit.

Zaheera Boomgaard (62) staan tereg op die moorde van twee mans wat sy op die internet ontmoet het, John Naisby (83) en Jamnadas Harkant ‘Hari’ Nathvani (72), sowel as die moord op haar vriendin, Lynette Mustapha (72).

Die verhoor sou op Maandag, 2 September in die Gauteng Hooggeregshof in Pretoria begin het, met Boomgaard wat vir ‘n tweede keer sou gepleit het, maar nou het die saak ‘n verrassende wending geneem toe Boomgaard aangedui het dat sy nou skuldig wil pleit.

Boomgaard het aanvanklik onskuldig gepleit op die drie klagte van moord, sowel as ‘n klag van bedrog.

Zaheera Boomgaard in die hof. Foto: Christiaan Cloete

Die saak is tot stilstand geruk toe die geskorste regter Tshifhiwa Maumela – wat geskors is nadat klagtes ontvang is oor die wyse waarop sy hofuitsprake ernstig vertraag het – haar van die saak onttrek het.

Die saak sou toe opnuut (de novo) begin met regter Jacobus Strydom as voorsittende beampte. Op 26 Augustus het Boomgaard weer vlugtig in die hof verskyn.

Haar regsverteenwoordiger het toe aangedui dat sy van plan was om skuldig te pleit wanneer die saak van voor af begin het.

Dit het dus as ‘n verrassing gekom toe die hof op 2 September gehoor het dat Boomgaard nou skuldig gaan pleit.

Die saak is uitgestel vir Boomgaard en haar regsverteenwoordiger om ‘n pleitooreenkoms op te trek.

Zaheera Boomgaard. Foto: Moleboheng Chaha

Tydens die eerste verhoor het Boomgaard beweer dat sy aan ‘n meervoudige persoonlikheidsversteuring ly en stemme hoor, wat daartoe gelei het dat sy in Mei 2023 na die Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal verwys is vir waarneming.

‘n Forensiese verslag het egter getoon dat daar nie fout met Boomgaard is nie en dat sy wel geskik is om verhoor te word.

Volgens die staat het Boomgaard vir Naisby (van Kaapstad) en Nathvani (‘n Britse burger) vermoor.

Sy het albei die mans op Facebook ontmoet. Naisby het in 2012 vermis geraak nadat hy Boomgaard op Facebook ontmoet het en na Gauteng gereis het om haar te gaan sien.

John Naisby. Foto: Argief

Sy liggaam is nooit gevind nie, maar sy bankkaarte is in Boomgaard se besit gevind toe sy in 2020 in hegtenis geneem is.

Volgens die staat is geld verskeie kere na sy dood uit sy rekening onttrek.

Nathvani het Suid-Afrika in Januarie 2020 besoek en vermis geraak.

Kort na sy verdwyning is daar ook verskeie kere geld uit sy rekening getrek.

Terwyl die polisie na die vermiste Nathvani op soek was het hulle op die lyk van Mustapha in ‘n veld naby De Deur afgekom.

Sy en Boomgaard het mekaar glo by ‘n kerk ontmoet en was glo vriende. Die polisie het in Augustus 2020 nog ‘n verkoolde lyk in De Deur gevind.

DNStoetse het onthul dat dit dié van Nathvani was.

Jamnadas Harkant Nathvani. Foto: Argief

You can read the full story on our App. Download it here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button