News

Vermeende reeksmoordenaar fluit wéér ander deuntjie

Sy gaan nie meer skuldig pleit nie.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

PRETORIA – Die verhoor van die vermeende reeksmoordenaar van De Deur, Zaheera Boomgaard (62), het nóg ‘n verrassende wending geneem nadat die beskuldigde onlangs aangedui het dat sy nie meer skuldig gaan pleit nie.

Boomgaard sou na verwagting skuldig gepleit het in die hooggeregshof in Pretoria op die moorde van twee mans wat sy op die internet ontmoet het, John Naisby (83) en Jamnadas Harkant ‘Hari’ Nathvani (72), sowel as die moord op haar vriendin, Lynette Mustapha (72).

Lees vorige berig hier.

Die familie van Nathvani, ‘n Britse burger, het selfs van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika gereis vir die voorverhoorverrigtinge by die Gauteng Hooggeregshof.

Jamnadas Harkant Nathvani (71).

Op Donderdag, 5 September het André Wilsenach, staatsaanklaer, egter die hof meegedeel dat die pleit- en vonnisooreenkoms nie gefinaliseer kon word nie.

Dit kom glo nadat die beskuldigde van plan verander het en aangedui het dat sy nie die pleitooreenkoms met die staat gaan sluit nie.

Dit volg skaars ‘n week nadat Boomgaard se prokureur die staat genader het om ‘n pleitooreenkoms te sluit, waar daar aangedui is dat Boomgaard van plan is om skuldig te pleit.

Die saak is uitgestel tot Februarie 2025. Boomgaard bly in aanhouding tot dan.

Zaheera Boomgaard in die hof. Foto: Christiaan Cloete

Boomgaard is reeds op 17 Mei 2020 in hegtenis geneem, maar die saak het die afgelope paar jaar gesloer weens verskeie redes.

Tydens die eerste verhoor het Boomgaard beweer dat sy aan ‘n meervoudige persoonlikheidsversteuring ly en stemme hoor, wat daartoe gelei het dat sy in Mei 2023 na die Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal verwys is vir waarneming.

‘n Forensiese verslag het egter getoon dat daar nie fout met Boomgaard is nie en dat sy wel geskik is om verhoor te word.

Later is die saak weer tot stilstand geruk deur die skorsing van regter Tshifhiwa Maumela.

Maumela is geskors nadat klagtes ontvang is oor die wyse waarop sy hofuitsprake ernstig vertraag het.

Sy het haarself van die saak onttrek. Die saak het toe opnuut (de novo) begin met regter Jacobus Strydom as voorsittende beampte.

Volgens die staat het Boomgaard vir Naisby (van Kaapstad) en Nathvani (‘n Britse burger) vermoor. Sy het albei die mans op Facebook ontmoet.

John Naisby.

Naisby het in 2012 vermis geraak nadat hy Boomgaard op Facebook ontmoet het en na Gauteng gereis het om haar te gaan sien.

Sy liggaam is nooit gevind nie, maar sy bankkaarte is in Boomgaard se besit gevind toe sy in 2020 in hegtenis geneem is. Volgens die staat is geld verskeie kere na sy dood uit sy rekening onttrek.

Nathvani het Suid-Afrika in Januarie 2020 besoek en vermis geraak. Kort na sy verdwyning is daar ook verskeie kere geld uit sy rekening getrek.

Terwyl die polisie na die vermiste Nathvani op soek was het hulle op die lyk van Mustapha in ‘n veld naby De Deur afgekom.

Sy en Boomgaard het mekaar glo by ‘n kerk ontmoet en was glo vriende.

Die polisie het in Augustus 2020 nog ‘n verkoolde lyk in De Deur gevind. DNS toetse het onthul dat dit dié van Nathvani was.

Zaheera Boomgaard. Foto: Moleboheng Chaha

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button