News

Oom Roelf stoei nog wêreldtitels los

Hy is in Las Vegas as wêreldkampioen in Grieks-Romeinse én vryslagstoei gekroon.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

MEYERTON – Daar is ‘n ou Amerikaanse gesegde wat lui Whatever happens in Vegas stays in Vegas.

Die feit dat Roelf Laubscher, ‘n 71-jarige inwoner van die dorp, in September vanjaar in Las Vegas vir ‘n derde agtereenvolgende jaar as wêreldkampioen in stoei gekroon is, is egter te veel van ‘n prestasie om oor te swyg.

Roelf is vanjaar as dubbele wêreldkampioen in die G-klas afdeling (78kg-88kg) gekroon.

Hy het in beide Grieks-Romeinse én vryslagstoei koning gekraai.

Roelf het ook in 2022 en 2023 beide hierdie wêreldtitels losgeslaan.

Die kompetisie het op 7 en 8 September by SLAM Nevada (Sports Leadership & Management of Nevada) in Las Vegas plaasgevind.

Die Suid-Afrikaanse span wat aan die 61+ Wêreldkampioenskap vir Grieks-Romeinse- en Vryslagstoei deelgeneem het.

Die Suid-Afrikaners het besonders goed gevaar, met Roelf se landgenoot Willem Putter wat ook as dubbele wêreldkampioen in sy afdeling (o78kg) gekroon is.

Hy het ook in beide die Grieks-Romeinse en vryslagstyl koning gekraai.

Hul landgenoot Leon van Vuren het ook ‘n bronsmedalje in sy afdeling (o100kg) verower.

Roelf sê hy het tydens ‘n reünie gehoor van meestersstoei en begin oefen.

Die pad was egter nie maklik nie. Kort nadat hy begin stoei het, het die Covid-pandemie die wêreld getref.

In 2021 het hy ook ʼn skouerbesering opgedoen wat hom vir ʼn ruk lank buite aksie gelaat het.

Roelf meen die opoffering en die ure van oefen was op die einde van die dag die moeite werd.

Hy dra sy oorwinning aan sy kinders en kleinkinders op.

Roelf Laubscher (in die middel) by die 61+ Wêreldkampioenskap vir Grieks-Romeinse- en Vryslagstoei in Las Vegas in die Amerikaanse deelstaat Nevada.
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button