Local newsNewsNews

Jong Eagles speel kookwater rugby

Twee jaar gelede was dit net 'n gedagte, vandag bestaan die NWU Eagles Rugby Jeugklub uit spanne wat 'n duidelike merk in hul eerste liga gemaak het.

VANDERBIJLPARK – By die NWU Eagles Jeug Rugbyklub gebeur daar dinge. Die klub is in 2022 begin deur Dewald Pieters, hoofafrigter van die NWU Rugby Instituut Vaalkampus, met 190 kannetjies tussen 7 en 18 jaar.

Galalelo Matshego systap soos ‘n wafferse Cheslin Kolbe

Twee jaar later en die jong Eagles het aan die Valke Jeug Rugbyliga deelgeneem. Die vorige seisoene het hulle slegs vriendskaplike wedstryde gespeel.

Die Eagles het 11 spanne in die liga gehad en in elke ouderdomskategorie van o7 tot by o13 het hulle onder die top drie spanne geëindig.

Wian Nortje o8 maak seker hy word nie gevang op pad doellyn toe nie

“Ek is baie trots op die spelers, ouers en afrigters. Ons is die enigste klub wat nie A en B spanne gekies het nie. Ons gee almal gelyke kans om te speel,” glimlag Dewald breed.

By die Eagles is almal ingekoop vir die ontwikkeling van rugby en die jong spelers. Van die NWU Eagles senior spelers word ingespan as afrigters en vele van die jong spelers se pa’s het al die afrigtingsprogram deurloop en rig ook nou af. Die ma’s word ingespan as spanbestuurders.

Tristan Erasmus druk ‘n drie vir die Eagles se o12-span. Foto’s: Mi Amor Photography

“Die meeste spelers speel ook vir hulle skole, maar ons liga bots nie met die skolerugby nie. Dis so lekker om te sien hoe almal hier net Eagles is, al kom hulle van kompeterende laerskole van so ver as Sasolburg.

Almal, ouers inkluis, dra hul Eagle spandrag met trots en dis lekker as daar na ‘n wedstryd sommer gebraai word,” vertel hy. Afrigter Gunner Williamson stem saam dat dié rugby jeugklub die gemeenskap saamsnoer.

“Die jong spelers kom kyk nou as die NWU Eagles speel en is dan baie opgewonde as hulle, hul ‘afrigters’ sien speel.”

Arlo Botes o8 op die aanval

Die jongmanne geniet dit natuurlik baie as hulle wegwedstryde het. Dan is dit ‘n hele gedoente om almal van die ondersteuners tot by die spanbestuurders, afrigters en spelers by plekke soos Boksburg, Brakpan en Springs te kry.

John-Martin Bekker ‘n o13speler van die Eagles op pad doellyn toe.

“Ons is gelukkig dat ons borge het wat ons ondersteun. Vir hulle is ons baie dankbaar en ons is bevoorreg dat die spelers se ouers met soveel entoesiasme betrokke is.

“Jy weet, hier bou ons verhoudings en kry elke kind die kans om nie net as rugbyspeler nie, maar ook as mens te ontwikkel en geestelike groei te ervaar.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button