Local newsNewsNews

Talentvolle musikant van die Vaal

Hy is 'n gesinsman met vele talente. Maak nader kennis met die Valie wat met 'n saksofoon kan toor, Lourens Nolte.

VANDERBIJLPARK – Prokureur, musikant, liedjieskrywer, sanger, klankman, langafstandatleet, fietsryer, swemmer. Elke hoed pas Lourens Nolte, maar hy doen alles met balans.

Nie een van sy vele bedrywighede neem al sy tyd in beslag nie. Hy doen dinge omdat dit vir hom lekker is.

Rustige musiek langs die rivier. Foto verskaf

Die man is nederig oor sy talente. Noem terloops dat hy die ukulele, kitaar, dromme, trekklavier, klavier en saksofoon kan speel. “Maar ek het net opleiding gehad in klavier. Dit was een van my skoolvakke en ook net tot graad vier UNISA.”

Die ander instrumente het hy homself geleer speel. “My pa en ouer broer het saksofoon gespeel en toe leer ek myself speel in standerd een of was dit nou standerd twee?”

Lourens het in Meyerton grootgeword, maar woon al vir 20 jaar in Vanderbijlpark. Sy sang bekoor en as hy die saksofoon vat toor hy met die gehoor. “Ek speel agtergrondmusiek. Nie te hard nie en ook nie te sag nie,” vertel hy.

Lourens Nolte saam met Illimar Neitz en Valiant Swart

Onlangs het hy weer vir die befaamde Afrikaanse sanger, Valiant Swart ‘n vertoning geopen. “Altyd lekker as ek saam met Valiant kan werk. Partykeer doen ek sommer sy klank ook vir hom,” vertel hy.

Andersins tree hy by privaat geleenthede op soos verjaarsdae partytjies. “Laas week het ek by die OVK in Bethlehem die boere vermaak en so eenmaal per jaar probeer ek om by ‘n ouetehuis vir die inwoners te gaan speel.”

Wanneer hy die kans kry, is hy ook sangleier by River of Life kerk in Vanderbijlpark. “Alles wat ek kan doen, kom van die Here af,” verklaar hy met oortuiging.

Naas sy musiek, geniet Lourens ook sy sport. Hy was ‘n kranige rugbyspeler op skool, maar nou se dae konsentreer hy meer op draf, swem en fietsry.

“Ek het al 160km grondpad met my fiets gery, maar jy weet ek is amper 50 en êrens knaag ‘n besering of ‘n pyn mos altyd,” lag hy.

Hy oefen tans ook om hopelik volgende jaar aan sy eerste Comrades Ultra Marathon deel te neem.

Die een droom wat hy nog wil realiteit maak is om die liedjies wat hyself geskryf het in ‘n studio te kan opneem, “maar ek wil al die instrumente self speel, so ek gaan baie tyd in iemand se studio moet spandeer en natuurlik gaan dit baie kos, maar eendag…”

Enige een wat Lourens al hoor sing en speel het, weet dat so ‘n musiekversameling luistergenot uit die boonste rakke sal verskaf.

You can read the full story on our App. Download it here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button