Local newsNews

Laaste eer betoon aan oudsakeman Corrie Foord

Die gesin bedank almal wat hulle deur dié hartseertyd bygestaan het

 

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van wyle mnr. Corrie Foord, ‘n bekende oudsakeman en jarelange inwoner van die dorp, het verlede Woensdag hul laaste eer aan hom betuig tydens sy gedenkdiens in die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid. Mnr. Foord se gesondheid het die afgelope tyd vinnig agteruitgegaan en hy is op 12 September in die ouderdom van 86 in Cormed-hospitaal oorlede.

Mnr. Foord is op 29 Julie 1938 in Johannesburg gebore en het ‘n groot deel van sy kinderjare in Groblersdal deurgebring, waar hy gematrikuleer het. Geld was destyds skraps en hy kon nie voltyds verder gaan studeer nie. Hy het na skool by ‘n skoenfabriek in Zimbabwe (destyds Rhodesië) gaan werk en deeltyds ‘n diploma in Landbou, en daarna ‘n B.Com- en Honneurs B.Com-graad behaal.

Met sy terugkeer na Suid Afrika het hy by ‘n paar munisipaliteite administratiewe werk gedoen, onder andere in Vanderbijlpark. Dit was hier waar hy hy sy droomvrou, ook genaamd Corrie, ontmoet het. Met sy landboukwalifikasie het hy ‘n verkoopsverteenwoordiger vir ‘n kunsmisonderneming geword, en is daarna deur ‘n Amerikaanse maatskappy aangestel om ‘n besigheid vir hulle in Suid Afrika te vestig. Na navorsingswerk het mnr. Foord uiteindelik ‘n fabriek in die Vaaldriehoek opgerig wat plastiese kleeffilm (clingwrap) vir die vleis- en groentebedryf vervaardig het – ‘n onderneming wat hy tot met sy aftrede in 1998 bedryf het.
Sy seun, mnr. Thys Foord, hoofbestuurder van MooiVaal Media, sê sy pa se liefde en toewyding aan sy ma, sowel as sy vrygewigheid sal hom altyd bybly. “Hy het nie twee keer gedink om iemand te help wat dit nodig gehad het nie,” sê Thys.
“My pa was baie lief vir tuinmaak. Hy het ‘n pragtige tuin op sy hoewe gehad waar daar ‘n roostuin met meer as 100 roosbome was. Hy kon ure in die oggende voor werk daar spandeer om die rose te snoei en te versorg. Hy en my ma was ook baie lief vir reis en het letterlik die land deurkruis met hul woonwa. Hy het altyd gesê hy dink nie daar is ‘n dorp waar hulle nie was nie.”

Wyle mnr. Foord word buiten sy vrou en Thys ook oorleef deur sy dogters Katryn Pieters en Marié Foord. Twee van sy seuns, Dewald en Cornelius, is reeds oorlede. Hy laat ook tien kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.

“Ons bedank graag ons familie en vriende vir hul ondersteuning in die moeilike tyd. Ons wil ook graag spesiaal dankie sê aan dr. Pieter Lategan en die personeel van Cormed Hospitaal – nie net vir die goeie mediese sorg vir Pa nie, maar ook die mooi, sensitiewe manier waarop hulle die behandeling en sy vordering met ons bespreek het. Die feit dat hulle werklik omgegee het, het dit vir ons soveel makliker gemaak en ons is opreg dankbaar daarvoor,” sê Thys.

“In Cormed se ICU het ons paaie gekruis met dié van suster Adrie Engelbrecht en haar wonderlike span mense. Dit is nie moontlik om genoeg dankie te sê vir die wonderlike manier waarop hulle Pa versorg het nie. Nie net die beste mediese behandeling nie, maar hoe hulle hom altyd met soveel omgee mooi versorg gehou het sodat hy rustig, gemaklik en tevrede was in sy omstandighede. En tussen al hul werk deur het hulle sommer ons hartseer ook behandel met drukkies, omgee en woorde van troos en bemoedinging. Ons kan maar net sê baie, baie dankie.”

Wyle mnr. Corrie Foord.

You can read the full story on our App. Download it here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button