NewsNews

Ek sê maar net: Dit was te veel teistering vir my gestel

Lag 'n slag of glimlag ten minste. RUBRIEK - Ja, soms gaan dinge maar windskeef of breek dit sommer morsaf.

RUBRIEK – Stap nou die oggend slaap-verward die kombuis binne. Kleinsus Antjie snel skielik agterdeur toe. Ook so pas ontwaak en die nood is groot.

Ek sluit oop en is dadelik deur die blare en hoog in die takke… letterlik.

“Ma,” gil ek gang af “die boom lê teen die agterdeur.” Asof dit ‘n alledaagse ding is om in boomtakke ooghoogte vas te kyk as jy die deur oopmaak.

Ons het dit verwag. ‘n Week voor die petalje het Ma al gesê ek moet kyk die een boom is besig om in twee te skeur.

Die boom het vir jare gestaan totdat ‘n onheilige (en ek vermoed onwettige) ranker van die bure oor die muur gerank het en die boom doodgewurg het.

Met die sterk winde wat ons ervaar het, het die boom se dooie takke begin skeur.

“Bel vir Oupa,” sê Ma. “Waar is Antjie?”

Oupa is die een in die dorp om te bel as jy ‘n probleem met ‘n boom het. Binne minute is hy en sy span daar en woertswarts kan die agterdeur weer oop en is die afgesnyde takke weg.

Ons het op ‘n stadium ‘n buurvrou gehad wat geglo het slegte goed kom in drieë. Ek is nie bygelowig van geaardheid nie, maar…

Saterdagmiddag toe die Leeus en die Sharks vir mekaar begin grom op Ellis Park toe gee die krag weer mee.

Wat presies daar fout gegaan het, weet nugter, maar so het CW1, 2 en 3 vir die volgende paar dae net plek-plek krag gehad.

Mense met titels het vir my probeer verduidelik oor die hoekoms en waaroms van die krag tekort wat hulle uiteindelik beurtlading genoem het, maar ek het nie een gegloof (soos die oumense gesê het) nie.

Naas die kragtekort het twee ander verskriklikhede my arme gestel geteister. Die Curriebeker-eindstryd.

My geliefde Leeus het wraggies die beker pasella vir die Sharks gegee. Die wedstryd was verby, magtag, wat het van vang die bal en skop uit geword? Ek praat nie verder daaroor nie.

Toe bly ek lank na slapenstyd wakker en daar verloor die Springbokke teen Los Pumas. Daaroor bly ek ook liewer stil.

Dink die tante was verkeerd. Dinge gebeur nie in drieë nie, soms trek ‘n week maar net windskeef. Gelukkig sal die hoop nooit beskaam nie. Ons is nog die Wêreldbeker Rugby Kampioene x 4!

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button