News

Koffievrou, sakeman en kie se verhoor in 2025

Hulle sal na verwagting in Februarie volgende jaar pleit op die aanklagte teen hulle.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING – Die voorverhoorverrigtinge in die geldwassery- en bedrogsaak van die voormalige kykNET-aanbieder, Henriëtte Marx, haar man, Dries Marx, en ‘n derde beskuldigde, Paul McIntyre, sal eers in 2025 begin.

Die trio sal tussen 24 – 28 Februarie weer in die handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn, wanneer hulle na verwagting sal pleit op die aanklagte teen hulle.

Hulle staan tereg op 32 aanklagte van diefstal, 120 aanklagte van bedrog en drie aanklagte van geldwassery.

Henriëtte Marx.

Die drie word daarvan beskuldig dat hulle geld van Yellow Star Manufacturing, ‘n maatskappy wat aan Hanno van Dyk behoort, verduister het.

Die geld is volgens die klagstaat in die bankrekeninge van maatskappye van die Marx-egpaar oorbetaal. McIntyre, wat in 2019 deur Dries as kliënteskakelbeampte aangestel is, het glo van die geld ontvang.

Dries Marx was die besturende direkteur van die maatskappy met 20% aandeelhouerskap vanaf 2018 tot en met 2022, toe hy afgedank is.

Al drie die beskuldigdes is verlede jaar op borgtog van R20 000 elk vrygelaat op die voorwaarde dat hulle toekomstige hofverskynings bywoon, hulle paspoorte oorhandig en nie vir reisdokumente mag aansoek doen vir die duur van die verhoor nie.

Henriëtte Marx wat bekendheid verwerf het as aanbieder van die reeks ‘Net Koffie’. Foto: Facebook/Coffee Excellence

Vaalweekblad het verlede maand berig dat die maatskappy DHM Traders, waarvan die Marx-egpaar direkteure is, voorlopig in die Johannesburgse hooggeregshof gelikwideer is.

Van Dyk het die likwidasie aansoek gebring om DHM Traders en drie ander maatskappye van die Marx-egpaar – insluitend Coffee Excellence – te laat likwideer nadat pogings om skuld te verhaal misluk het.

Die voorlopige likwidasie is toegestaan en die Marx-egpaar het nou tot 25 Oktober om te reageer voor die likwidasie finaal gemaak word.

Henriëtte was vroeër aanbieder van die kykNET-program Net Koffie. Die derde en laaste seisoen van die program is in 2022 uitgesaai.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button