News

Kunsuitstalling bied platform aan leerders

Die jaarlikse kunsuitstalling word gehou om leerders blootstelling te gee en hul ‘n platform te bied om hul werke ten toon te stel.

*Die storie het eerste in die gedrukte uitgawe van Vaalweekblad 6 – 12 September 2024 verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus eerste.

MEYERTON – Kunswerke van ‘n hoogstaande gehalte is vanjaar tydens die Dreamz Art & Glass Studio se jaarlikse kunsuitstalling by Destinata Skool se skoolsaal uitgestal.

Die uitstalling is op 17 Augustus geopen.

Volgens Hettie Hayward, kunsonderwyseres en eienaar van die Dreamz Art & Glass Studio, word die jaarlikse uitstalling gehou om leerders blootstelling te gee en hul ‘n platform te bied om hul werke ten toon te stel.

Kunsstudente wat kuns as ‘n vak op skool het (kuns en ontwerp) word ook tydens die uitstalling beoordeel op die werke wat hulle daar ten toon stel.

Vanjaar se uitstalling het die werk van leerders van die Hoërskool Dr. Malan, Hoërskool Overvaal, Destinata Skool, I Tutor, Impaq en Laerskool Vryheidsmonument ingesluit.

Dreamz Art & Glass Studio in Vereeniging het onlangs hul jaarlikse uitstalling by Destinata Skool in Meyerton gehou. Foto: Christiaan Cloete

Vir vanjaar se uitstalling is daar sowat 300 kunswerke van juniors (graad een tot sewe) en twee groepe seniors (graad agt tot nege en graad 10 tot 11) ontvang. Vanjaar se uitstalling het volgens Hayward voorwaar ‘n kunsskouspel opgelewer.

Vanjaar se werke is van ‘n hoë standaard, baie hoër as vorige jare,” het Hayward aan Vaalweekblad gesê.

Volgens Hayward was daar sowat 250 gaste by vanjaar se geleentheid, met die getal besoekers wat elke jaar groei.

Die Dreamz Art & Glass Studio is ‘n gesertifiseerde akademiese instelling in Arconpark wat daarna streef om ‘n passie en liefde vir kreatiwiteit aan te wakker en gee jong talentvolle geeste die vermoë om hulself artistiek uit te druk terwyl hulle die nodige grondbeginsels van kuns en ontwerp leer.

Skakel Hettie Hayward by 060 508 0405 om meer uit te vind oor haar Dreamz Art & Glass Studio of besoek die kunsskool se amptelike Facebook-blad vir meer inligting.

Pippa Koen, ‘n graad 10-leerder van die Dreamz Art & Glass Studio, by een van haar werke – ‘n houtskooltekening op bruinpapier – wat tydens die kunsskool se jaarlikse uitstalling uitgestal is.
Cateline van der Walt, ‘n kunsstudent van Hoërskool Dr. Malan met haar gemengde medium kunswerk tydens die Dreamz Art & Glass Studio se jaarlikse uitstalling. Foto: Christiaan Cloete
Welna Morton van Destinata Skool met die beeldhouwerk van ‘n hond wat sy gemaak het. Foto: Christiaan Cloete
Nadia Mickenautsch, ‘n kunsstudent van Hoërskool Dr. Malan, by ‘n waterverfskildery wat tydens die kunsskool se jaarlikse uitstalling uitgestal is. Foto: Christiaan Cloete

You can read the full story on our App. Download it here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button