Local newsNewsNews

Held ontslaan na wrede aanval

Gesin skerp nou sekuriteit op

VANDERBIJLPARK – “Alles keer stadig maar seker terug na normaal. Barry is uit die hospitaal ontslaan en dit lyk of hy ten volle gaan herstel.”

Só sê Retha Fitchat, oudredakteur van Vaalweekblad en Ster nadat sy, haar man en seun op 6 September deur rowers in hul huis in SE2 oorval is.

Die rowers het toegang gekry deur twee stewige veiligheidshekke en die houtvoordeur met ‘n breekyster oop te forseer. Barry (30) is eerste in die huis vasgekeer.

Hy is ten aanskoue van Retha twee keer met die breekyster oor die agterkop geslaan.

Die rowers het die stuk gereedskap in die huis agtergelaat en dit is as bewysstuk deur die polisie weggeneem. “Ons sal dalk mettertyd berading wil kry, maar op die oomblik voel ons rustig.

My man Ben, Barry en ek praat baie met mekaar oor wat gebeur het en ons kan selfs al glimlag oor ‘n paar dom foute wat die rowers gemaak het.

Die voorbok het blykbaar in ‘n stadium in die huis verdwaal en kon nie die agterdeur vind toe hy Ben, wat uitgeglip het, wou agtervolg nie

. Hulle het byvoorbeeld ook nie mooi geweet hoe om ons hande vas te bind nie.”

“Hoewel die rowers vir Ben gewaarsku het dat hulle hom gaan skiet as hy nie stil sit nie, het hulle nooit ‘n vuurwapen op ons gerig nie.

Ek twyfel of hulle een gehad het. Dit was van die begin af vir my duidelik dat hulle nie gekom het om ons dood te maak nie. Hulle wou net geld en goedere hê,” vertel Retha.

“Ek glo ook dat die rower wat Barry geslaan het, nie sy volle krag gebruik het nie, anders sou Barry nie meer met ons gewees het nie.

‘n Breekyster wat metaal kan oopbuig, sou lelik maak met ‘n mens se skedel as daar met volle geweld geslaan is. Hulle wou in ‘n stadium Ben en Barry se knieë met die breekyster slaan, maar ek het uit my hart uit gepleit dat hulle dit nie moes doen nie.

Ek het vir hulle gesê dis Ben se 74ste verjaardag en dat hulle hom asseblief nie op sy spesiale dag so seer moes maak nie.”

“Ek dink ons redding was dat ons nie paniekerig geraak het nie, die rowers nie sleggesê het nie en ons deurgaans respekvol met hulle gepraat het. Dit het hulle moontlik rustiger en minder aggressief gemaak,” vertel sy.

“Ons kon soveel seerder gekry het. Ons al drie het agterna gesê ons het deur alles die teenwoordigheid van ‘n bonatuurlike krag gevoel.

Ons wéét dit was God wat ons bewaar het en is so dankbaar.” “Die rowers het ons goedere gesteel, maar ons gaan nie toelaat dat hulle ons lewensvreugde steel nie.

Ons is besig om ons sekuriteit op te skerp en kyk nou net vorentoe,” sê Retha. Sy bedank nogmaals almal wat hulle sedert die voorval bygestaan het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za More »
Back to top button