Local newsNewsNews

Ek sê maar net… ‘n Filosoof, maar nie ‘n akademikus nie

RUBRIEK - Die man hou nie baie van skool nie, maar hy weet darem hoe om te keer dat hy nie die meisies se harte breek nie.

RUBRIEK – Hy wag saam met die ander vir my in die personeelkamer. Hy sit dwars, rug teen die venster. Wakker ogies, onnutsige glimlag.

Die enigste een met ‘n pet op. Uiteindelik is dit nog net die twee graad 3’s oor. “Met wie moet ek nou gesels?” vra hy en skuif rond, “ek gaan pouse mis.”

Ek vra die jonge dogter by my of sy van skool hou. “Oee, onthou om my dit ook te vra,” kommentaar hy dadelik van oorkant af.

Met sy klasmaat by die deur uit, kry hy sy sit by my. Sy naam, sê hy is Owen Blake Zwarts. “Mmm, jou ma hou skool by Totius. Ek ken haar.”

Dis hoe ‘n man se gesig lyk as al die meisies van jou hou, en jy eerder voel om weg te kruip as om met hulle te praat. Foto: Gerda Bruinette

Sy gesiggie val net so effens. Duidelik het hy nie gedink ek sal sy ma ken nie. Dan slaan die trots deur. “Sy gee klas vir die groot kinders.”

Ek onthou om hom te vra of hy van skool hou. “Nee. Al wat mens hier doen is werk en huiswerk en party maal kry jy ekstra werk en ekstra huiswerk,” protesteer hy.

Sport? Dis ‘n ander saak. “Ek speel rugby en gholf en gaan dalk gewigstoot doen.”

“Dalk?” is ek vir ‘n oomblik verward.

“Ons het vanoggend uitdunne gehad en ek het span gehaal,” verduidelik hy geduldig.

“Watter rugbyspan ondersteun jy?” wil ek weet. “Wat het die ander meisie gesê wie ondersteun sy?” kry ek ‘n teen vraag.

Ek het geen idee of hy die meisie in graad 2 of 3 bedoel nie, maar gelukkig is albei Springbok ondersteuners.

“Ja, ek skree ook vir die Springbokke. Ons gaan Saterdag kyk. Nie by die plek D nie, ek bedoel op die TV.”

“Jy weet hulle speel 11 uur in die aand,” deel ek my kennis.

Sy oë rek. “Dan sal ek my oë moet oophou tot baie laat.”

Ek het agtergekom hy en die meisies het mekaar lekker geterg toe hulle hul beurt moes afwag.

“Het jy ‘n meisie?” is ek nuuskierig.

Owen trek dadelik sy neus op ‘n plooi. “Nee. Maar, daar is baie wat van my hou. Dan wil ek net wegkruip.

“As hulle my goed vra, dan sê ek net, ek weet nie. Ek wil nie een van hulle hartseer maak nie,” raak hy filosofies. Dis tyd om ‘n foto te neem.

“Wil jy nie maar daai hoed afhaal nie?”

Hy pluk die hoed af. “Ai, my hare,” sug hy. Ek wys hom die foto’s. Hy is tevrede. Plak dan weer sy Owen-pet op sy kop en bokspring letterlik by die personeelkamer uit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button