Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Lig na die duisternis

RUBRIEK - September so ver was bietjie rof op die gestel, maar daar is altyd hoop en ten minste is ons ligte weer aan.

RUBRIEK – Dit was ‘n donker twee weke. Nie net oor die Dorp Substasie alweer in vlamme opgegaan het nie. Dis die finansiële en emosionele uitputting wat mens meer vang as die eindelose kerse aansteek en gasbottel water kook.

Die kant van die dorp is daar min met luukshede soos solarsisteme en kragopwekkers. Ons het wel die magtige dreuning van kragopwekkers elke aand gehoor. Kan net dink hoeveel geld het so in die niet verdwyn.

Min of meer saam met die substasie se groetslag, is een van my tannies oorlede. Ons het die roudiens bygewoon in Brakpan. Dit pla my dat ek my familie, die wat nog in Suid-Afrika is, net op begrafnisse sien.

Voor die nare Covid-ding het ek nog gereeld vir ‘n naweek pad gevat. Het ek gaan oë wys in Graskop, Rustenburg, Middelburg, Sundra, Groblersdal… maar nou vreet selfs ‘n rit Brakpan toe te veel petrol.

Laasweek so in die middel van die kragkrisis en die gewone spertyd spanning, is Kleinsus Antjie nie lekker nie. Haar ogies lyk sommer verlep. Vrydag is ek en Ma met Antjie onder die arm veearts toe.

Dr Delport gee een kyk in haar mond en verklaar ‘n noodtoestand. Maandagoggend vroeg vat ons Antjie weer veearts toe. Dis swaar om haar in die donker hokkie te los.

Gelukkig verloop alles goed. Teen 14:00 is sy terug in haar eie mandjie by die huis. Totaal verward na die traumatiese gebeure. Die aand eet sy al haar sagte kos. Grom sy weer as Baba Bessie te naby is.

Dinsdagmiddag wag sy vir my buite saam met Ma. Sy eet goed. Spoeg haar antibiotika in strepe uit en wip haar alie soos gewoonlik vir almal.

Presies hoeveel tande sy oor het, weet ek nie. Onder het sy wel twee skitterwit oogtande. Sy het klaar ‘n nuwe truuk. Kry sy nie haar sin nie, stoot sy die twee tande dramaties na vore.

Kleinsus Antjie is weer haar ou self. Daar is weer elektrisiteit in die huis. Die Leeus en die Springbokke het gewen. Die afgelope twee weke se duisternis het plek gemaak vir hoop en lig.

Back to top button