Sport

VRK maak dit twee uit twee

Ryg Valke-titels in

 

VEREENIGING. – Twee uit twee

Die Vereeniging Rugbyklub (VRK) se trofeekasdeur kan skaars toe, nadat hy verlede Saterdag, 7 September in Kemptonpark die Valke Peregrine-liga vir eerste en tweede spanne gewen het.

Soos dit ‘n wafferse eindstryd betaam was die uitslag tot aan die einde in die weegskaal, maar VRK se hardebaarde het verbete aan sy voorsprong geklou om met 4140 te seëvier.

VRK se eerstes glimlag van oor tot oor.

Brakpan het in die doodsnikke ‘n drie in die linkerhoek gedruk, maar die doelskop om die sege aan Brakpan te besorg was windskeef. VRK se tweedes het ook ‘n naelbytstryd beleef, maar het die wa met 25-18 teen NWU Vaal deur die drif getrek. VRK se eerstespan was soos resiesperde uit die wegspringblokke en het twee vinnige drieë gedruk om met 14-0 voor te loop.

Na ‘n strafdrie en geelkaart het Brakpan daarin geslaag om die telling gelykop te maak.

“Dit was ‘n wiplankeindstryd. Een vir die boeke. Ons het twee keer teen hulle in die liga verloor, maar ons het gewen toe dit saakmaak. As ek windgat mag wees, ons het gewys ons kan eindstryde wen. Eers die Presidentbeker en nou die Valke-liga.

Ek is vreeslik trots op die groep ouens se veggees,” sê Ockert Brits, hoofafrigter van die Vereeniging Rugbyklub se eerste rugbyspan, na sy span se sege. Volgens Brits het hy voor die wedstryd vir die spelers tong-in-die-kies gesê dat jy net een punt benodig om ‘n eindstryd te wen.

Min wetende dat die profetiese woord sou waar word. “Die feit dat die tweede span ook gewen het wys dat die strukture van bo tot onder by die klub reg is. Die emosie wat die bestuur na die eindstryd gewys het, spreek van hulle groot waardering. Ons het saam met die spelers geleer en gegroei.”

Back to top button